Briewe

Geskok oor toue by lisensiekantoor

Ek moes onlangs my motor se jaarlikse lisensie heruitneem en sit toe met al my bewysstukke en geld af na die kantoor by die vliegveld.

Tot my skok sien ek ’n tou mense buite die kantoor seker 50 meter lank. Daar sit verder mense op die sypaadjies en in hul motors en wag. Ek kon nie bepaal of hulle nog een of ander tyd in die tou gaan inspring nie.

Moedeloos ry ek huis toe om later weer te probeer. Daarna is ek talle kere terug van vroeg tot laat en elke keer het ek liewer omgedraai omdat die tou net te lank was.

Uiteindelik, radeloos omdat my li­sen­sie en die grasietydperk verval het, durf ek toe maar die tou aan. Wat ’n frustrerende ervaring. Die tou beweeg amper nie. Die son bak genadeloos. My voete pyn naderhand. Die sypaadjie is so warm, ’n mens kan nie daarop sit nie. Drie ure van my kosbare tyd het dit my geneem.

Later verneem ek van nog vele men­se wat dieselfde frustrasies ondervind het. Party sê na ’n urelange gewag kom daar ’n dame uit en sê die mense kan maar huis toe gaan en môre weer kom, want die kantore sluit 14:30 en hulle gaan nie betyds gehelp kan word nie. Hoor die munisipaliteit nie die magtige dreuning van ontevrede motoreienaars nie?

Nou die dag kry ek ’n kennisgewing dat die lisensiekantore die komende week net halfdag oop gaan wees. Hulle werk klaar net halfdag; so dis seker ’n kwartdag. Sogenaamd personeel wat siek is. Nevermaaind die toue mense en die geweldige aanvraag na diens by die lisensiekantoor. Waarom nie nog men­se aanstel nie? Waarom nie oortyd werk nie? Waarom nie Saterdae oopmaak nie? Waar is ­dienslewering aan die publiek? Dit lyk te veel na die ge­maksugtigheid waarin ons land verval het. Kan nie worry nie!

Mense doen so min as wat hulle kan, want sy pay is mos dieselfde aan die einde van die maand. En dan dring hulle sweerlik nog aan op groter verhogings aan die einde van die jaar want hulle werk dan so hard. Ek wil skree!

Ek kan nie verstaan dat ons liewe munisipaliteit nie kan sien dat hier ’n krisis is nie. Die hoof van verkeer sê hy kan nie verstaan wat klaers se probleem is nie, sy amp­tenare kry dan so baie komplimente van die publiek. Hy wil seker hê die werkende publiek moet maar van hul werk wegbly en doodte­vrede in die ondraaglike toestande kom staan!

Ag nee, Munisipaliteit van Oudts-hoorn, dis ’n skande dat dienslewering tot hierdie vlakke gedaal het. Doen iets asseblief. Waar is ons raadslede? Kan hulle nie ’n slag ophou om onder me­kaar te baklei en te sorg dat diensle-wering weer ’n prioriteit word by ons voertuiglisensiekatoor nie?
– Leon Coetzee, Oudtshoorn

Diens nou ’n vloekwoord?

Het uitstekende diens ’n vloekwoord geword? Wat dryf die idee? Is dit persoonlik, kultureel of polities van aard? Vir my gaan dit oor meer as net swak bestuur. Dit strek verder as die politieke of sosio-ekonomiese probleme van ’n land. Dit het met ’n ingesteldheid te doen, ’n wil of selfs ’n behoefte om mense te help.

So moet ek op ’n dag Tafelberg gaan klim. Nie in die Kaap nie; sommer net hier tussen die Outeniqua- en Swartberge. Ek klim met die regte voet uit die bed, berei myself geestelik en emosioneel voor op die frustrasie wat vir my wag. Ek trek my gemaklik aan vir ’n lang, lang staan in die warm Karoo-son en reël dat kos en water op ’n spesifieke tyd by my afgelewer word.

Kalmerende musiek speel op my motorradio terwyl ek die kort rit na die Verkeersafdeling aandurf. My gemoed is positief. Ek het my vroegoggend­meditasie doelbewus langer uitgerek. Ek is dus in alle opsigte die spreek­-woor­delike kalmte vanself.

Ek word begroet met rye warm mense. ’n Ry voor die linkerkant van die gebou, ’n ry voor die regterkant van die gebou en ’n kort rytjie in die middel van die twee. Jong mense, ouer mense en heelwat tussenin. Die son bak ge­we­tenloos en straaltjies sweet loop teen fronsende gesigte af. Tande word bie­-t­jies vir bietjies fyn gekners. ’n Ge­vleuelde woord word nou en dan die lug ingeslinger.

Ek gaan staan in die ry aan die regs. Ek moet my bestuurslisensiekaart her­nu. Daar is ses mense voor my. ’n Verkeersdame kom uitgestap en vra: “Waar­voor is jy hier?” Ek verduidelik en is bly om te weet ek is in die regte ry. Die minute tik verby. Ek hou my horlosie dop om uit te werk hoeveel tyd tussen die eerste en die tweede persoon wat moet ingaan, verbygaan.

Dertig minute verstryk. Ek begin ook die kners-op-my-tande-speletjie speel. Daar word twee stoele onder ’n pilaar geplaas. Twee ou ooms in my ry word genooi om daarop te sit. Ek is dankbaar vir hulle onthalwe. Nog dertig minute en persoon nommer drie kry die geleent­­-heid om die gebou binne te gaan. Die verkeersdame kom weer uitgestap. Ek vra wat die probleem is.

“Watter pro­-bleem?” vra sy. Ek verduidelik die dertig minute-situasie. “Die oogtoetsma-sjien is baie stadig vandag,” antwoord sy.

Ek gaan sit op die sypaadjie met my hoed skeef getrek. Dié het ek darem onthou van ’n vorige geleentheid wat lank geneem het.

Twee ure later, nou nommer twee in die ry, word my kos en water afge­le­wer. Dankbaar eet ek dit soos ’n uitgehongerde op ’n lang reis. Die bottel water word vinnig afgesluk. My vlees is gevoed, maar die gees wil nie verder saamwerk nie. Ek sukkel om ratte te wissel, ek het in vyfde rat vasgehaak.

Ek sien aan die oorkant gaan dit nie veel beter nie. Daardie ry is twee keer so lank soos ons s’n. Woorde vlieg rond, mense raak vrygewig met opinies en geduld het lankal vlerke gekry.

My ry beweeg. Ek staan nie meer op nie, ek skuifel sommer so op my sitvlak vorentoe soos wat die ry vorder. Die verkeersdame kom weer uit. Dit is halftwee. Sy vra die laaste man wat nou net in die ry kom staan het, waarvoor hy hier is. “Bestuurslisensie,” sê hy. “Jammer, maar ons sal jou nie vandag kan help nie,” sê sy. Hy wals daar weg, maar nie sonder ’n geoefende verhoog­uitdrukking en die nóu reeds bekende “Ag *** tog” nie.

Kwart voor drie en ek sit voor in die ry. Vir die volgende dertig minute is dit my beurt om aandag te kry. Ek wonder watter toetse ek nog moet aflê?

Sover ek weet, is dit slegs ’n oogtoets en ID- foto.

Ek word ingeroep. “Sit maar,” sê die dame. Ek neem plaas. “Sit jou voorkop teen die skerm en antwoord my vrae”, praat sy verder. “Baie dankie,” sê ek. Dis net genade dat ek nog wakker is, iets kan sien en ’n ordentlike woord kan uitkry. Die son het my van alle kalmte gestroop.

Binne vyf minute is ons klaar. “Waar­­heen nou?” vra ek haar. “Ek soek twee ID-foto’s,” sê sy. “Ek dog jul­le neem self die ID-foto’s,” ant­woord ek verbaas.

“Nee,” sê sy, “jy moet vir ons twee gee.” Ek het geen foto’s by my nie. Op pad uit vra ek wat die volgende prosedure sou wees, indien ek die fo­to’s daar gehad het. “Jy moet dan net be­taal, Mevrou”, antwoord sy my. “En daar­na?” vra ek. “Daarna niks, Me­vrou,” sê sy.

Ek is stomgeslaan! “Jy wil vir my sê vandat ek by die gebou ingestap het, totdat ek hier uitstap (indien ek vandag kon betaal), sou agt minute duur?”

Ek kyk met slangsluwe oë na die vrou voor my wat met totale rustigheid geklee is en my vraend aankyk. “Seker maar,” antwoord sy.

Ek wil vuur spoeg, haar verdrink in al die lelike woorde wat in ’n baie spesifieke lêer agter in my brein weggebêre word. “So, ek moes vir drie en ’n halwe ure in ‘’n ry staan om agt minute se diens te ontvang?” “Seker maar,” antwoord sy weer. “En daar is absoluut niks met die oogtoetsmasjien verkeerd nie?” “Nie sover ek weet nie, Mevrou.” Sy kyk my vraend aan.

Ek draai op my hoë hakkies om, maar nie voordat ek ook ’n Oscar-nomi­nasie kry vir die uitdrukking op my gesig nie en ook mý weergawe van “Ag *** tog” verbaliseer nie.

So, my vrae is: Hoekom moet mense so lank wag? Hoekom is daar nie meer stoele vir moeë mense nie? Hoekom is daar nie sambrele of een of vorm van beskerming nie? My antwoord is: Indien werknemers meer effektief en produktief optree, niemand ’n rede het om te kla oor diens nie … en dit het niks met kleur te doen nie.
– Hanri, Oudtshoorn

Waarskuwing

Reënboognasie van Suid-Afrika: neem kennis! Ons word gewaarsku in groot swart letters: Lees Je­remia 5: 6 – 8.

As ons nie terugkeer na God en Sy gebod nie, gaan die oordeel van Jeremia (hoofstuk 5) oor hierdie land kom.

• Toeligting: Jer 5: 6 – 8: Daarom sal leeus uit die bos hulle kom doodmaak, wolwe uit die woestyn hulle kom verskeur, en luiperds by hulle stede op die loer lê om elkeen wat uit die stad uitgaan, te vang. Hulle oortredings is baie, hulle het gedurig afgedwaal.

Waarom sou Ek jou vergewe? Jou inwoners het My verlaat, hulle sweer trou aan afgode. Ek het hulle trou laat sweer aan My, maar tog pleeg hulle egbreuk en drom hulle saam in bordele.

Soos bronstige hingste het hulle geword.

Hulle runnik elkeen agter sy naaste se vrou aan. (Nuwe Bybelvertaling 1983)

Volgens die Konkordansie: Bybelmillenium is die verklaring die volgende: Chaos sal die oorhand in die land kry; mense gehoorsaam nie God se morele wette nie en daarom het Hy sommige natuurwette opgehef, naamlik reëntye en die sukses van oeste. Egbreuk en onsedelikheid wys direk na ontrou aan God.

Liefde aan almal wat gehoor gee.
– Cecile, Oudtshoorn

Be the first to comment on "Briewe"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*