Tugverhoor van dorp se burgemeester kan lank duur

’N TUGVERHOOR van die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester, wat Maandag op Oudtshoorn afgeskop het, sal waarskynlik nie vandeesweek afgehandel word nie. Dié interne tugverhoor deur die DA vind sedert Maandag plaas.

Alan McLoughlin, een van die DA se twee ko­mi­tee-assistente betrokke by die tugverhoor, het Dinsdag aan Die Hoorn gesê dit lyk onwaarskynlik dat die tugverhoor teen Vrydag afgehandel sal wees. Indien die verhoor nie Vrydag klaar is nie, sal dit in ’n later stadium wat geskik is vir al die betrokkenes voortgesit word.

Die tugverhoor is verlede jaar reeds twee keer uitge­stel – die eerste keer voordat dit op 20 No­vember kon begin en ’n tweede keer in Desember. Dit is is die eerste keer uitgestel nadat Sylvester na verneem word die DA se Federale Raad versoek het vir meer tyd om hom voor te berei en ’n meer gedetaileerde klagstaat, en die tweede keer na die dood van ’n nabye familielid van Sylvester.

Adv Glynnis Breytenbach, voorsitter van die Federale Regskommissie, het Dinsdag gerugte ont­ken dat die DA met Sylvester probeer skik het.

Volgens McLoughlin was daar wel gesprekke tussen die partye se regsverteenwoordigers om die tugverhoor te probeer verkort – onder meer op grond van die hoë koste daarvan vir beide partye hoe langer dit duur – maar is geen ooreenkoms in dié verband bereik nie.

Na verneem word is daar elf klagtes teen Syl­vester met sowat 15 moontlike getuies wat geroep kan word. Getuies kan ook onder kruisverhoor geneem word. ’n Paneel sal na afloop van getuienis en kruisondervraging ’n beslissing maak.

McLoughlin sê die DA poog om die tugverhoor so regverdig en objektief moontlik te maak. Die betrokkenes van die DA, ook die paneellede, is byvoorbeeld afkomstig uit ander dele van die land met geen bande met Oudtshoorn of die streek nie.

• Die Hoorn het gister verskeie klagtes van inwoners ontvang nadat ’n buitelandse toeris na bewering die oggend be­ledig is deur iemand in Baron van Reedestraat. Die toeris het klaarblyklik ’n foto geneem van ’n groep in die straat wat met plakkate hul steun vir die bur­gemees­ter gedemonstreer het.

Na ver­neem word, het inwo­ners hulle oor die ontstelde toeris en sy mede-reisigers ontferm en aan hulle verduidelik waaroor die plakkaatbetoging gaan. (Deur Liesel le Roux)