Lekker reën … maar droogte nie gebreek

Bo: Die Aries-gesin van Oudtshoorn se motor se een ruit is heeltemal uitgeslaan en die deurraam gebuig deur vallende rotse op die Kango Grotte-pad. Foto verskaf

AL het daar die naweek 77 mm reën in die Raubenheimerdam buite Oudtshoorn se opvangsgebied geval, is die droogte in die Klein Karoo nog nie gebreek nie.

Die Raubenheimerdam se vlak het gistermiddag op 50,22% gestaan. Dit was verlede Vrydag voor die reën slegs 39,7%.

Ander damvlakke het ook maar gering gestyg.

Maar ten spyte daarvan dat daar nog heelwat reën in die streek nodig is voordat die afgelope jare se droogte gebreek sal wees, was daar Sondag uitbundige vreugde by inwoners van die Klein Karoo met die goeie reën wat wyd geval het.

Op Oudtshoorn het mense gestap en gery om te gaan kyk hoe die Grobbelaarsrivier die eerste keer in jare weer afkom, terwyl vier van die paaie wat dié rivier op die dorp kruis, Van der Riet-, Kerk-, Albert- en Rademeyerstraat, vir verkeer gesluit is.

Die Swartbergpas tussen Oudtshoorn en Prins Albert is Maandagoggend vroeg ook gesluit as gevolg van skade aan die padoppervlak na swaar reën en klippe wat na rotsstortings in die pad beland het. Die pad na die Rust en Vredewaterval buite Oudtshoorn is ook as gevolg van reënskade tydelik gesluit. Volgens Ntobeko Mangqweng­qwe, woorvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, sal aan die toestand van die pad aandag geskenk word sodra reënerige toestande ophou.

Die reën het ook elders enkele rotsstortings laat plaasvind.

Een daarvan was Sondagmiddag omstreeks 16:15 in Schoemanshoek buite Oudtshoorn, net voor De Kombuys. Lee Aries van Oudtshoorn vertel dat sy en haar gesin op pad was na Matjiesri­vier toe vallende rotse hul motor getref het. ’n Klip het die passasiersvenster uitgeslaan, die voorruit gekraak en die een motordeur se raamwerk gebuig. “Deur God se genade is niemand van ons egter beseer nie,” sê sy.

Reënval in die streek het gewissel tussen sowat 20 mm en 100 mm met hoër reënval op plekke langs die Swartberge. Plaasdamme wat jare lank kurkdroog was, het weer water gekry. Teen Dinsdag was verlede week se kurkdroë Karooveld skielik groen.

Die Calitzdorpdam se vlak het van 8,4% verlede week tot 26,3% gestyg, die Stompdriftdam buite De Rust staan egter net soos verlede week op 5,6% terwyl die Kammanassiedam van 2% verlede week effens gestyg het na 2,1%.

Volgens Cornie Swart, president van Agri Wes-Kaap, is dit belangrik om te besef die droogte is nie in die Oudtshoorn, Calitzdorp, Montagu, Barrydale en die Klein en Sentraal-Karoo-gebiede gebreek nie en dat opvolgreën in hierdie streke krities nodig is vir plaas- en opgaardamvlakke en om die natuurlike weiding te herstel.

“In die Klein-Karoo hou ons duimvas vir genoeg reën in die berge vir riviere om te loop.”

Joey Potgieter, voorsitter van Agri Klein Karoo, stem saam met Swart, maar sê die reën het darem almal se gemoedere weer ’n bietjie ligter gemaak en hoop geskep.

Hy sê landbouers hoop dat opvolgreën in die gebied sal val.

Die droogte in die streek is nou in sy vyfde jaar en al vier landboudamme in die gebied – die Kammanassie-, Stompdrift-, Gamkaskloof- en Floris­kraaldam – is sedert 2016 feitlik leeg. (Deur Liesel le Roux)