SPORTTOERISME kan ’n ernstige knou kry en Oudtshoorn se ekonomie ’n invloei van miljoene rande verloor as die Oudtshoorn Munisipaliteit nie dringend aandag skenk aan die NA Smit Swembad nie.
So sê Dave van der Walt, operasionele bestuurder van Eden Tweekamp, te midde van kommer oor die toestand van die NA Smit Swembad waar groot swemgalas en tweekampbyeenkomste deur die jaar plaasvind.
Die swembad, een van twee olimpiese-standaard swembaddens in Oudtshoorn, is volgens mense verbonde aan van die sportliggame en -instansies wat gebruik maak daarvan, in ’n haglike toestand.
Van der Walt sê die dorp kan moontlik die geleentheid om nasionale en provinsiale tweekamp- en swembyeenkomste aan te bied, heeltemal verloor. In Februarie vanjaar word die Highgate Tweekamp en in Maart die SA Tweekamp Kampioenskap op Oudtshoorn aangebied.
“Ek glo ons het hulle klaar verloor. Ons sukkel elke jaar met sub-standaard-fasiliteite, en is al verby die punt waar die probleme vinnig sal regkom.”
Van der Walt was Dinsdagoggend baie bekommerd oor die Eden Tweekamp-proewe wat later die dag by die swembad gehou is.
Volgens Van der Walt se berekeninge versterk een só ’n kompetisie die dorp
se ekonomie met tussen R2 en R4 miljoen, “maar dit kan alles verlore gaan weens die swak instandhouding van die swembad en sy geriewe.”
Daar is kommer oor swak waterkwaliteit en die swemmers se welstand as gevolg daarvan, terwyl die paviljoene, afdak en ligte onbruikbaar is. Ander toerusting, soos stoele en ’n klankstelsel, is net skoonveld en diegene wat die toernooi aanbied, moet self daarvoor sorg.
“Die munisipaliteit het baie verskonings wanneer ons hulle aanspreek of waarsku, maar steeds is daar geen verandering nie,” sê hy. “Jaar na jaar word ons in die skande gesteek.”
Die swembad het ’n lang geskiedenis van probleme. In April verlede jaar moes Oudtshoorn sy kop in skaamte laat hang oor troebel water tydens Swem Suid-Afrika se Vlak 3-streeksgala. ’n Sinkafdak wat in Oktober 2019 deur ’n stormwind afgewaai is, is steeds nie herstel nie.
Navrae oor die swembad is aan die munisipaliteit gestuur. Teen druktyd is geen terugvoer ontvang nie. (Deur Stefan Goosen)