Bewysstukke by forensiese laboratorium

DIE ondersoek na die botsing waarin Ma­rilize Nortier (18) van Oudtshoorn op 22 September 2019 oorlede is, is afgehandel.

So sê kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie.
Marilize is in die oggendure van 22 September 2019 oorlede toe die BMW waarin sy ’n passasier was, die pad verlaat en in ’n watersloot langs die Kango Grotte pad te lande gekom het. Sy was steeds vasgegordel in die passasiersitplek toe die motor uit die water getrek is. Daar is vasgestel dat sy verdrink het.

Volgens Visser is daar egter nog ’n verslag van die Botsingsondersoekeenheid in die Kaap uitstaande.

Dit is nie tans moontlik om te sê hoe lank dit gaan neem om die verslag te voltooi nie, aangesien bewysstukke wat versamel is nou deur die forensiese laboratorium ondersoek word. Forensiese ondersoeke word gewoonlik nie vinnig afgehandel nie.

Volgens Visser het die polisie reeds met die bestuurder van die BMW ’n onderhoud gevoer, maar is die jong man deur sy prokureur aangeraai om nie ’n verkla­ring af te lê nie.

“Enige persoon wat as ’n verdagte beskou word in ’n kriminele saak het die reg om te besluit of hy ’n verklaring wil aflê of nie. Daar is geen verplig­ting op ’n persoon om dit te doen nie. Dit is hoe die regsproses werk.”

Klagtes teen die bestuurder wat ondersoek word, sluit in strafbare manslag, dronkbestuur en regs­verydeling.

Visser sê sodra die verslag ontvang is, sal dit aan die hof gegee word, maar dat daar in dié stadium nie bepaal kan word hoe lank dit nog kan duur nie.

Die Hoorn het die bestuurder se ma gekontak vir kommentaar, maar sy het verkies om nie kommentaar te lewer nie.

Die botsing het in die vroeë oggendure, vermoedelik tussen 03:00 en 04:00, plaasgevind, maar die nooddienste is eers omstreeks 07:42 na die toneel ontbied nadat mense wat daar verby­geloop het, die motorwrak gesien het.

• Intussen het ver­skeie mense aanvallen­de opmerkings oor die polisie en die bestuurder van die BMW op ’n Facebookbladsy wat na die ongeluk geskep is, Truth4Marilize, geskryf in reaksie op ’n inskrywing wat te kenne gee dat die polisie nie by die bestuurder was om ’n ver­klaring af te lê nie.

Die betrokke mense is klaarblyklik onbewus daarvan dat die bestuurder geadvi­seer is om nie ’n verkla­ring af te lê nie. (Deur Angelique Erasmus)