Tronkstraf vir 21-jarige wat meisie 6 keer steek

’N 21-jarige man van Lategansvlei in die Oudts­hoorn-distrik wat sy meisie ses keer met ’n mes gesteek het, is in die Oudtshoorn Streekhof vyf jaar gevangenisstraf opgelê nadat hy aan ernstige aanranding skuldig bevind is. Streeklanddros Da­niel Boks het met die vonnisoplegging van Jeandre Manuel gesê dit was ’n sinnelose aanranding.

Volgens Boks sou die saak nooit in die hof beland het as die polisie nie op die toneel aangekom het nie. “Dit kon maklik moord gewees het.”

Kommerwekkend is die feit dat die vrou, die ma van Manuel se kind, hom so jammer gekry het dat sy geweier het om na die hospitaal te gaan, die klagte wou terugtrek en versoek het dat hy nie tronk toe gestuur moet word nie.

Die hof het bevind dat tronkstraf die enigste gepaste vonnis sal wees omdat opgeskorte of korrektiewe toesig ’n verkeerde boodskap sal uitstuur.

Manuel is ingevolge Artikel 276 (1) (i) tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat beteken dat hy na die uitdiening van ’n sesde daarvan om parool aansoek kan doen. Hy is onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)