Oudtshoorniete voor in die pro-kannabis koor

Oudtshoorniete wat die pro-kannabis gemeenskap van die omgewing verteenwoordig Maandag voor die Oudtshoorn Munisipaliteit. Voor van links is Kobus Schoeman, direkteur van Grow One Africa; Vader Mark van Zyl en Daleen Schoeman. Agter is Gerhard Visser, Juan Patrick en Sachin Plaatjies. Foto: Stefan Skapie Goosen

“ONS staan op die skouers van reuse wat voor ons gekom het; dus het hierdie inisiatief eintlik al eenhonderd jaar gelede begin. Ek dink dit is nou baie goed dat elke ou sy rol in die bedryf kan vind, en ons dit dan op verskillende vlakke kan dryf.

“Grow One Africa is wel een van die hooforganiseerders van die huidige inisiatief, en mense beskou ons nou half as die gom wat al die groepe bymekaarbring. Ons sal egter nooit die krediet daarvoor kan vat dat dit ons is wat eerste gekom het nie. Ons is net die diensknegte wat hierdie bedryf aan die gang kry.”

So het Kobus Schoeman, direkteur van Grow One Africa (GOA en pas terug van ’n besoek aan die Uniegebou in Pretoria), Maandag op die Groter Oudts­hoorn Munisipaliteit se stoep gesê waar GOA ’n memorandum aan die burgemeester wou oor­handig.

Lede van GOA, ’n nasionale kannabis-organi­sasie wat op Oudtshoorn gestig is en tot dusver ’n onmisbare impak op die kannabisbedryf ge­had het, het die naweek saam met vennote en geaffilieerde klubs en organisasies van regoor die land ’n memorandum aan die nasionale regering oor­handig rakende wetgewing rondom die kannabisbedryf. ’n Besoek is aan beide die Uniegebou én parlement gebring asook aan munisipaliteite regoor die land om die memorandum te oorhandig.

Volgens Schoeman is dit reeds vier jaar sedert kannabisgebruik en -besit deur die Hooggeregshof in 2018 gedekriminaliseer is, maar is daar steeds nie toepaslike wetgewing rondom die bedryf op­ge­stel nie.

“Die regering is twee jaar gegee om wette te skryf, en hulle is nou al ’n verdere twee jaar laat daarmee, en nou eis ons dat wetgewing in plek gesit word. Ons organisasie en ander geaffilieerdes verteenwoordig derduisende kannabis-verbruikers – hetsy hulle dit rook, kweek, vir medisinale gebruik aanpas of selfs ander produkte uit die plant maak. Ons vereis ook dat interim-maatreëls opge­stel word sodat ons onsself kan reguleer voordat wetgewing opgestel word,” het hy Maandag voor die Oudtshoorn Munisipale kantoor in Voortrekkerweg gesê.

Schoeman sê die pro-kannabisaktiviste – van hier en elders – het reeds Sondag ’n skrywe van die presidensie ontvang wat bevestig dat daar wel interim-maatreëls in plek is.

“Dit is baie goeie nuus. Die besoek vanoggend aan ons plaaslike munisipaliteit gaan meer daaroor om vir hulle, die raad, te verduidelik dat hierdie beweging op Oudtshoorn begin het en daar nou al 2 000 werksgeleenthede deur GOA geskep is onder ons 7 000 lede, en meer as 120 besighede en maatskappye oor die afgelope drie jaar onder ons stelsel geregistreer is.

“Ons is nie hier om op hulle te skree nie, maar ons is hier om ons hande na die munisipaliteit uit te steek, om hande te vat met projekte wat moontlik nie uitwerk nie, om hulpbronne wat dalk nie ten volle benut word nie te vat en ’n sukses daarvan te maak, en ons dorp en land op te bou.”

Al het Schoeman en sy span Maandag voor dooiemansdeur te staan gekom nadat ’n afspraak reeds die vorige week gemaak is, bly hulle vasbeslote om saam met die munisipaliteit te werk.

“Hulle kan deel wees van hierdie beweging, en ekonomiese voorspoed na ons streek bring indien hulle betrokke raak. Die wanpersepsie en stigma rondom kannabis loop nog hoog, maar saam kan ons dit tot voordeel van ons gemeenskappe breek,” het hy gemaan.

Die memorandum wat by die Uniegebou oor­handig is, verteenwoordig volgens Schoeman waar­skynlik miljoene kannabis-verbruikers en -aktiviste in die land.

• Schoeman sê aksiegroepe van Zimbabwe het hom ook genader om hulle by te staan met wetgewing en veilige gebruiksmaatreëls in hul land.

Hy vertrek binnekort na Zimbabwe en Die Hoorn sal met hom daaroor gesels sodra hy daarvandaan terugkeer. (Deur Stefan Skapie Goosen)