Francois van der Bergh (18). Foto verskaf
Deur Angelique Erasmus
“MY kind bly my kind. Ek sal hom steeds ondersteun deur dik en dun,”sê Hannelie Koen, moeder van ’n 18-jarige Oudtshoorniet wat Maandag tot onderskeidelik vier jaar en ses jaar gevangennisstraf gevonnis is.
Francois van der Bergh (18), wat op 13 Novembeer 2018 skuldig gepleit het op vier aanklagte – van aanranding met die doel om ernstig te beseer, die besit van gevaarlike wapens, opsetlike saakbeskadiging en roof met verswarende omstandighede – is deur landdros JC Nortje skuldig bevind op al dié aanklagte.
Die aanklagte teen Van der Bergh spruit uit twee voorvalle in 2017 toe hy 17 jaar oud was en ’n man met ’n mes gesteek het en skerp wapens later in sy besit gevind is, asook ’n voorval in Junie verlede jaar toe hy ’n man met ’n skêr gesteek en van sy selfoon beroof het.
Die hof het in ag geneem dat hy nog minderjarig was toe die eerste oortreding plaasgevind het, maar reeds 18 was met die laaste voorval. Hy het ook reeds sewe maande tronkstraf uitgedien en het in die hof verantwoordelikheid aanvaar vir sy dade.
Landdros Nortje het in sy uitspaak verduidelik dat hy sou verwag dat Van der Bergh sy les sou leer na sy eerste verskyning en hy vrygelaat is op waarskuwing, maar dat hy weer ’n misdryf gepleeg het met ’n skerp voorwerp.
Op die eerste aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer is hy tot twee jaar gevonnis wat vir vyf jaar opgeskort is; op die aanklag van besit van gevaarlike wapens is hy ’n boete van R500 opgelê wat vir vyf jaar opgeskort is, sowel as ’n boete van R300 wat vir vyf jaar opgeskort is vir opsetlike saakbeskadiging.
Op die laaste aanklag van roof met verswarende omstandighede is hy effektief tot ses jaar gevonnis, wat vir twee jaar opgeskort is.
Van der Bergh is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit en sal eers oor twee jaar in aanmerking kom vir parool. Hy is na die uitspraak teruggelei na die selle, en sal teen volgende week na Mosselbaai Korrektiewe Dienste oorgeplaas word.
Volgens Van der Bergh se regsverteenwoordiger, Gideon Badenhorst, gaan sy kliënt nie teen die vonnis appeleer nie, en aanvaar hul die uitspraak.
Me Koen het gister aan Die Hoorn gesê dit is vir haar en Van der Bergh se pa (Jacques) swaar dat hul seun Mosselbaai toe gaan skuif en dat dit groot finansiële druk op hulle sal plaas om hom daar te besoek.
“Ons is baie lief vir hom en ons sien uit na die dag wat hy huis toe kan kom.