Ondersoek na Rabie-aanranding duur voort

Dr Annelie Rabie, die burgemeester van die Sentraal-Karoo Distriksmunisipaliteit (SKDM).  Foto verskaf

Deur Marlene Malan
’N POLISIE-ONDERSOEK na die aanval op die burgemeester van die Sentraal-Karoo Distriksmunisipaliteit (SKDM) by haar huis op Prins Albert duur voort.

Dr Annelie Rabie (DA) is verlede Woensdag­aand omstreeks kwart oor agt buite haar huis in die hoofstraat van agter aangeval en geskop terwyl sy op haar selfoon gepraat het. Sy is in haar maag geskop toe sy probeer opstaan het, volgens ’n WhatsApp wat sy die volgende oggend aan mede-ampsdraers en kennisse gestuur het.

Rabie het, volgens die Prins Albert Polisie, Vrydagoggend ’n klag van aanranding gelê. Sers Nico April, woordvoerder, het aan Die Hoorn gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die aanvaller is ook nie geïdentifiseer nie.

Rabie is ook tydens die aanval gedreig.

“We will come for you,” is herhaaldelik aan haar gesê, volgens haar boodskap.

Volgens April sal enige inligting van die publiek verwelkom word, en kan die ondersoekbeampte, konst Konstabel, gekontak word by 023 541 8000.