’N TIENER van Oudtshoorn, Geraldo Filander (19), wat ’n oud-onderwyseres van Oudtshoorn in die begraafplaas aangeval en van haar motor beroof het, is Woensdag in die Oudtshoorn Streekhof deur landros JC Nortje tot effektief ses jaar tronkstraf gevonnis.
Hy is skuldig bevind en gevonnis vir ’n aanklag van roof, die gebruik van ’n voertuig sonder toestemming en roof met verswarende omstandighede nadat hy op 25 Maart vanjaar die 81-jarige Jean Arries in die Oudtshoorn Begraafplaas aangerand en haar Toyota Tazz gesteel het.
Hy het ook op 10 Mei ’n minibus- taxi sonder die toestemming van die eienaar, Markus Saptouw, geneem en na ’n taxistaanplek gery waar hy ’n passasier opgelaai, en daarna met haar in George rondgery het.
Hy het die passasier, Sandra Tarentaal, later met ’n mes gedreig en probeer beroof.
Tarentaal kon daarin slaag om die mes by hom te gryp en weggehardloop.
Hy het haar egter van R800 kontant en haar selfoon beroof.