Trane van blydskap toe water by Laerskool Laurus raakgeboor word

En toe is daar water!
Ronelle Huysamen, hoof van Laerskool Laurus op Oudtshoorn, gister kniediep in modder en water by ’n boorgat wat vandeesweek by die skool gesink is en baie trane van dankbaarheid tot gevolg gehad het.
Foto Angelique Erasmus

Leerders van Laerskool Laurus speel gister te lekker in die klei-modderwater by die boorgat waar daar Dinsdag water gevind is. Foto Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
TRANE van blydskap het Woensdag­oggend by Laerskool Laurus op Oudts­hoorn gevloei toe daar water op 90 meter raakgeboor is.

Werk aan ’n boorgat by die skool het Dinsdag begin.

’n Besigheid wat reeds ’n hele aantal jare in Oudtshoorn en die omge­wing gate boor, GJ Drilling, het die boorwerk gedoen.

Volgens Eugene Gouws van GJ Drilling het die eienaar, Kobus du Plessis, besluit om die boorgat te boor nadat hulle van dié eko-skool te hore gekom het.

“Water is lewe, en dis waaraan ons glo. Dit was vir ons wonderlik om die boorgat vir die skool te kon skenk en die boor­werk te doen,” sê Gouws.

Dit het sowat vier ure geneem om tot by 90 meter te boor. Tydens die proses is daar op elke meter ’n grondmonster geneem om die tipe grond te bepaal.

Die eerste water is reeds op 21 meter gevind, daarna op 48 meter, 63 meter, maar op 81 meter is die beste water gevind.

Daar is egter besluit om die gat tot op 90 meter te boor.

Volgens Gouws was die grond hoofsaaklik klei, met min kalkklip tussenin.

Ronelle Huysamen, die skoolhoof van Laerskool Laurus, sê almal by die skool is oorweldig deur die goedheid van Gouws en sy span.

“Ons is absoluut dankbaar vir God se hand in hierdie projek, en dat Hy so goed is vir ons skool en ons seën met hierdie groot geskenk,” sê sy.

Die water sal aangewend word om die skool se sportvelde, olyfboord en plant­lewe groen en aan die groei te hou.

Die skool het ook onlangs begin om groente in ’n groentetonnel te plant.

Dit maak alles deel uit van die skool se strewe daarna om ’n eko-georiënteerde skool te wees.

Die boorwerk is slegs die eerste fase van die waterprojek by die skool. ’n Opgaardam word binnekort by die skool skool gebou as ’n geskenk van Noordwes Damme!

Hou Die Hoorn dop vir meer nuus oor dié waterprojek by Laerskool Laurus.