
Deur Garnett Wicomb
DIE trane het verlede Donderdag in die Oudtshoorn Streekhof gerol toe ’n jong vrou van De Rust tronk toe gestuur is nadat sy aan strafbare manslag skuldig bevind is.
Die 23-jarige verwagtende Davidene Pieterse en familielede was duidelik geskok toe streeklanddros Retha Pretorius haar vir die dood van Heinrich Sauls tronkstraf opgelê het. Pieterse het tereg gestaan op ’n moordklagte, maar onskuldig gepleit.
Sy het die 26-jarige Sauls op Kersoggend van 2016 met ’n kombuismes wat sy in haar langbroek versteek het, in die bors gesteek toe sy glo vir haar broer in die bresse getree het. Sy het vroeër getuig dat sy kwaad was vir Sauls omdat hy haar verneder het deur haar glo op die grond te gooi en te skop.
Sy wou vir haar ouers gaan vertel, maar toe hulle nie tuis was nie, het sy ’n kombuismes gevat en teruggaan na waar Sauls gekuier het. Sauls het volgens haar haar broer wat by haar was, voor die bors gegryp. Sy was bang dat hy haar broer sou verwurg en het na sy arm gemik met die mes. Sy het hom egter in die bors getref.
Die streeklanddros het met vonnisoplegging gesê ’n opgeskorte vonnis of korrektiewe toesig sal ’n verkeerde boodskap uitstuur en dat direkte gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis vir die ernstige misdryf is. “Die beskuldigde moes voorsien het dat dit iemand se lewe kon kos om hom met ’n mes te steek,” het sy gesê.
Pieterse is ingevolge Artikel 172 (1) (i) tot 42 maande gevangenisstraf gevonnis wat beteken dat sy na die uitdiening van ’n sesde van die vonnis (sewe maande) om parool aansoek kan doen.
Sy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.