14 verskyn vir roof


Deur Angelique Erasmus
VEERTIEN verdagtes wat daarvan aangekla word dat hulle die eienaars van drie spaza-winkels in Bridgton van kontant en selfone beroof het, het Dinsdag die beskul­digdebank in die Oudtshoorn Streekhof volgesit. Ekstra stoele moes ingedra word om almal ’n sitplek te gee.

Die drie klaers, Nazimur Haque, Mir Haslsuin en Andre van Wyk, beweer die beskuldigdes het stokke, messe, knopkieries en pangas by hul gehad.

Die beskuldigdes word verteenwoordig deur Vaughn Shone, Brian Carelse, Stoffel Prinsloo en Dawid Scholtz. ’n Aansoek vir hul ontslag in terme van Artikel 174 van die strafproseswet het voor die hof gedien. Die saak is deur landros JC Nortje tot 10 Desember uitgestel vir oorweging.

Dit blyk dat van die klaers se eerste verklarings nie die name van sommige beskuldigdes bevat nie, en dit eers later bygevoeg is.

Van die beskuldigdes het na bewering ook bloot onder ’n boom in die omgewing gesit, terwyl een van die beskuldigdes glo gereeld sy middagete onder die boom eet.

Die beskuldigdes is Cheslin Bruintjies, Gordwill May, Patrick Malgas, Dawid Swarts, Corne Kammies, Sam Olckers, Ashwill Oosthuizen, Numfriano Meyer, Patrick Fortuin, Wayne Johannes, Johannes Goliath, Andre Esau, Andrew Witbooi en Henry

Fortuin. Agt van die beskuldigdes is tans in hegtenis.

Corne Pretorius is die staatsaanklaer.