Ockie Olivier by van die wit volstruispluime van Welgeluk.
Deur Liesel le Roux
’N ONLANGSE produksieveiling op Oudtshoorn van broeivolstruise uit die beroemde George White-bloedlyn het getoon dat die dae van die volstruis nie verby is nie en daar nog ’n aanvraag is vir goeie genetika!
Die veiling van Klein Karoo Veilings & Veebemarking op 15 Mei is aangebied in opdrag van Ockie Olivier, volstruisboer van Wel geluk.
Olivier is alombekend en het oor die jare verskeie pryse gewen vir die kwaliteitvere wat hy produseer.
Die duurste broeivoël-mannetjie by die veiling is vir R5 500 aan Jurie Klue van Avondrust Boerdery verkoop. Die duurste broeivoëlwyfie het
’n prys van R5 000 behaal.
Tydens die veiling is al 70 broeivoëls – 35 mannetjies en 35 wyfies – verkoop.
Die gemiddelde prys was R4 430.
Volstruise uit die George Whitebloedlyn is veral bekend vir hul uitsonderlike mooi vere, maar kan ook vir hul vel en vleis gebruik word.
Olivier se volstruise uit dié bloedlyn het daartoe meegedra dat Oudtshoorn wêreldwyd bekend geword het as die tuiste van die mooiste volstruisvere.
• Die George White-volstruise is genoem na ’n bekende volstruisboer van Grahamstad, wat ’n besonderse krulveervolstruiswyfie in die dieretuin in Oos-Londen gesien en met ’n wa en spesiaal geboude hok na sy plaas vervoer het. Die wyfie was een van ’n groep krulveervolstruise wat in die volstruisveer-bloeijare deur die Suid-Afrikaanse regering in die Arabiese woestyn opgespoor en na Suid-Afrika laat bring is om nuwe bloed in die volstruisveerbedryf te kry.