Hof bevind dokter skuldig

Verkragting en seksuele aanranding

Deur Garnett Wicomb
’N DOKTER van die Paarl wat voorheen verbonde was aan die Infanterieskool op Oudtshoorn, is Maandag in die Oudtshoorn Streekhof aan verkragting en twee klagtes van seksuele aanranding skuldig bevind.

Streeklanddros Daniel Boks het die 36-jarige Danzil King se getuienis tydens die hofsaak as vals en leuenagtig verwerp. Boks het bevind dat die klaagsters, twee vroulike rekrute, nie enige motiewe gehad het om hom vals te beskuldig nie.

“Die twee rekrute het nie mekaar geken nie en eers mekaar tydens ’n besoek aan ’n maatskaplike werker ontmoet,” het die landdros gesê.

“Die beskuldigde het sy weergawe aangepas ná die getuienis van dr Charlston Dreyer, die dokter wat een van die vroue na die voorvalle ondersoek het, en dit ingekleur het met sy mediese kennis.”

Die voorvalle het in April 2016 in die siekeboeg van die Oudtshooorn Infanterieskool plaasgevind. In die eerste voorval het ’n 21-jarige rekruut die siekeboeg vir ’n oorprobleem besoek.

King het die vrou toe gevra om haar oorpak uit te trek en self haar damesbroekie uitgetrek. Hy het daarna twee vingers in haar geslagsdeel gedruk en haar borste bevoel.

Hy het ook die siekeboeg se deur gesluit en later gesê hy wens hy was haar kêrel. Hy wou ook van haar weet wat sy hom sal gee indien hy haar sou afboek.

Volgens die landdros het die vrou nie oor vaginale pyn gekla nie en nie om hulp geskree nie omdat sy die dokter vertrou het.

Hy het gestop toe sy hom gevra het om te stop met waarmee hy besig is.

In die twee ander gevalle het ’n tweede rekruut, ook 21, die beskuldigde vir ’n liesbesering besoek en is sy ook gevra om al haar klere uit te trek. Daarna het die beskuldigde haar geslagsdeel gevryf omdat, volgens hom, dit die enigste manier was om
die liesbesering te genees.

Die siekeboeg se deur was weer gesluit en ten spyte van drie keer se kloppery, is dit nie oopgemaak nie.

Toe die rekruut tien dae later vir ’n opvolgbesoek gegaan het, het die beskuldigde weer haar vagina gevryf.

Hy wou sy vingers daarin druk en haar soen, maar sy het hom gekeer.

“Daar is geen redes om die slagoffers se getuienis te verwerp nie terwyl die beskuldigde se weergawe nie versoenbaar is met die feite van die saak nie,” het die landdros gesê en bygevoeg dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het.

Die landdros het na sy uitspraak ook die redes verskaf waarom hy vroeër in die saak ’n aansoek om ontslag van die hand gewys het.

“Hierdie versoek is van die hand gewys omdat daar wel getuienis voor die hof was wat daarop gedui het dat die beskuldigde skuldig bevind kan word,” het die landdros gesê.

King se borgtog van R5 000 is op versoek van sy regsverteenwoordiger, adv Benito Metembo, verleng.

Die verdediging het ook aangedui dat daar op 28 Junie ’n aansoek om teen die uitspraak te appelleer, gebring sal word.

Nadia le Roux was die aanklaer.