Hofsaak gaan voort teen twee wat bejaarde winkeleienaar aanrand, beroof

• Slagoffer in Desember 2017 oorlede

Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen twee mans van Dysselsdorp wat daarvan aangekla word dat hulle ’n 75-jarige winkeleienaar van Stolsvlakte aangerand en beroof het, is Maandag in die Oudts hoorn Streekhof vir verhoor uitgestel nadat vertoë wat die verdediging tot die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) gerig het om die saak te skrap, onsuksesvol was.

Die saak het verlede jaar voor wyle streeklanddros Mark van Wyngaardt gedien en is nou as nuwe saak op die hofrol geplaas.

Volgens die staatsaanklaer, Hyron Goulding, is ’n nuwe klagstaat voorberei.

Die staat voer aan dat Ronaldo Olkers en Koos van der Ross op 29 Mei 2017 vir Frans Tredoux na bewering in sy winkel met ’n knopkierie oor die kop geslaan en met ’n skerp voorwerp gesteek het, waarna hy deur Olkers en Van der Ross van R200 kontant beroof is.

Tredoux kon weens verswakte gesondheid nie verlede jaar in die hofsaak getuig nie. Hy is in Desember verlede jaar oorlede.
Olkers het ’n vrywillige bekentenis aan ’n onafhanklike polisiekolonel afgelê en borgtog is aan albei geweier.

Olkers en Van der Ross se regsverteenwoordigers, Eugene Roos van die plaaslike regshulpraad en adv Stoffel Prinsloo, het die
hof na Tredoux se dood versoek om die oorkondes te laat tik vir vertoë wat hulle tot die DOV gerig het.

Die vertoë was egter onsuksesvol en is deur streeklanddros Retha Pretorius vir verhoor tot 3 Augustus uitgestel.