Tiener verskyn weer in hof

Deur Angelique Erasmus
DIE saak teen ’n tiener van Oudts­hoorn wat aangekla word van poging tot moord, roof en die besit van ’n gevaarlike wapen, is Vrydag tot 8 Oktober uitgestel.

Die saak teen Francois van der Bergh (19) sal dan na die Oudtshoorn Streekhof oorgeplaas word.
Twee sake teen hom word saam­gevoeg vir sy volgende hofverskyning.

Van der Bergh is in Junie vanjaar in hegtenis geneem op ’n aanklag van roof met verswarende omstandighede nadat hy na bewering ’n man met ’n skêr gesteek en van ’n selfoon beroof het.

Die ander saak spruit uit ’n voorval in 2017 toe hy na be­wering ’n man vyf keer met ’n skerp voorwerp in die bors gesteek het.
Hoewel Van der Bergh in daardie stadi­um op ’n klag van huisbraak en poging tot moord verskyn het, is hy in pleegsorg geplaas en voorwaardelik vry­ge­laat.

Hy is Vrydag by die hofverrigtinge deur ’n familielid ondersteun, en het vlugtig vir die persoon gewaai voordat hy terug na die selle begelei is.

Van der Bergh het ook in 2015 nuus gemaak toe hy op die ouderdom van 15 saam met ’n vriendin, Marlena Letoulat, toe 14, vermis geraak het.

Na ’n soektog is beide tieners drie dae later ongedeerd in Port Elizabeth gevind.