Tiener red man van branddood

JC Berry (19) by die deur wat hy afgeskop het om Desmond Josephs uit die brandende bui­tekamer te red. Foto: Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
“HELP my, ek brand dood!”

Dit was die noodkreet wat JC Ber­ry (19) van Oudtshoorn Vrydagog­gend omstreeks 05:30 ge­hoor het net nadat hy wakker geskrik het.

Hy het wakker geskrik toe sy asem wegge­slaan is deur rook van ’n brand wat in ’n buitekamer by bure se huis ontstaan het.

Die noodkreet was van Desmond Josephs (65), ’n man wat deur die brand in die buitekamer vasgekeer was.

“Ek het na die bure se huis gehardloop en gesien dat die deur van die buitekamer toe is. Ek kon dit nie oopkry nie,” vertel Berry.

Hy het die deur oopgeskop en die brandende vertrek binnegestorm.

Binne was ’n groot kas wat om-geval en die deur na buite versper het, wat Josephs verhinder het om by die buitekamer uit te kom.

Berry het Josephs in sy arms op-geraap en uit die kamer na veilig­heid gedra.

“Daar was net swart rook en vlam-me waar jy kyk, maar ek het nie gedink nie, ek het net gedoen,” sê hy.

Berry wat tans sy matriek aan Aurial Kollege voltooi, sê hy wil graag by die Polisie aansluit sodra hy klaar is met matriek.

Volgens sy ma, Magda, was Jo-sephs Dinsdag by hul huis om haar seun te bedank.

Sy woorde aan hom was: “Jy het my uit die hel uit kom haal!”

Sy sê die brandweer was gelukkig gou op die toneel en kon die brand blus.

Volgens die eienaar van die huis waar die brand ontstaan het, Richard Gorst, het Josephs nie toestemming gehad om die perseel te betree nie, maar soek hy soms slaapplek daar.

“Ons het gelukkig nie groot skade gehad nie, en JC was baie vinnig hier om te help. As dit nie vir hom was nie, sou Desmond beslis doodgebrand het”

Josephs is op die toneel behandel vir rookinaseming. “Die hare op sy kop was geskroei, maar hy wou nie hospitaal toe gaan nie,” sê Gorst.

Die oorsaak van die brand is nog nie bepaal nie.