DIE minister van Polisie, Bheki Cele, is verkeerd as hy sê die Wes-Kaap is die provinsie in Suid-Afrika wat die meeste polisiehulpbronne van die nasionale regering ontvang.
So het die Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid en sekuriteit, Albert Fritz, verlede week by ’n vergadering met afgevaardigdes van verskeie rolspelers by die Bridgton-biblioteek op Oudtshoorn gesê.
Hy het ook gesê dat die tekort aan speurders in die provinsie daartoe lei dat speurders met meer as 200 dossiere op ’n slag sit. Dit het daartoe gelei dat sake nie behoorlik ondersoek kan word nie en tot 85% van alle strafsake gevolglik van die rol geskrap word.
Kommer is ook uitgespreek oor die Polisiekollege op Oudtshoorn waar daar tans geen noemenswaardige opleiding plaasvind nie, die tekort aan polisielede en polisievoertuie terwyl landelike veiligheid en wetstoepassing ook ’n bron van kommer is. Oudtshoorn beskik tans oor slegs vyftien munisipale wetstoepassers wat hopeloos te min is aldus Fritz.
Die vergadering wat deur die Oudtshoorn DA gereël is, is bygewoon deur afgevaardigdes van onder andere die SAPD, munisipale wets-toepassers, buurtwagte, AfriForum en sekuriteits-ondernemings asook die DA se kiesafdelingshoof in die Eden-distrik, Eleanore Bouw-Spies.
Volgens Fritz is vennootskappe van kardinale belang in die uitvoering van die provinsie se veiligheidsplan. Die provinsie het ’n goeie werksverhouding met die provinsiale polisiekommissaris, genl. maj. Thembisile Patekile, maar beskik nie oor genoegsame polisielede op voetsoolvlak nie.
Sekuriteitsmaatskappye het volgens Fritz ’n groot rol gespeel dat die onlangse onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng nie na die Wes-Kaap oorgespoel het nie.
’n Afgevaardigde van AfriForum en voormalige polisielid, Johan Terblanche, het ’n beroep op Fritz gedoen om die plaaslike polisiewerkswinkel te besoek en hom te vergewis van bande en onderdele vir polisievoertuie wat glo van ander provinsies bestel word. (Deur Garnett Wicomb)
Tekort aan speurders ’n reuse-probleem
Minister Albert Fritz op Oudtshoorn