Brits se appèl teen vonnis misluk

DIE appèlhof van Suid-Afrika het die spesiale aansoek van die voormalige bestuurder van Kango Wyne op Oudtshoorn, Johan Brits, om teen sy skuldigbevinding te appelleer van die hand gewys en die saak na die streekhof op Oudtshoorn terugverwys vir voortsetting van vonnisverrigtinge. Brits is reeds in 2015 in die Oudtshoorn streekhof skuldig bevind op 23 klagtes van bedrog en twee van oortreding van die Wet op Drankprodukte.

Hy is skuldig bevind dat hy ’n vreemde produk bekend as “ale” met wyn gemeng het en dit onder die ou etikette bemark het, asook dat hy seëls wat deur ’n beampte van die departement landbou aan wyntenks aangebring het, gerbreek het.
Sy aansoeke om die bevinding van die hof op hersiening te neem en ook om teen die skuldigbevinding te appelleer is vroeër deur die Kaapse hooggeregshof van die hand gewys waarna hy hom tot die appèlhof in Bloemfontein gewend het.

Adv Louis van Niekerk, senior staatsaanklaer in die kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolging, het Brits se aansoek teengestaan.

’n Datum vir sy volgende verskyning in die Oudtshoorn streekhof moet nog bepaal word. (Deur Garnett Wicomb)