DIE man van Dysselsdorp wat ’n familielid tydens ’n rusie oor ’n boedel met ’n klip op sy oog gegooi het, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn landdroshof ’n opgeskorte vonnis ontvang nadat hy aan aanranding om ernstig te beseer skuldig bevind is.
Die 49-jarige Hillton Ferreira het in ’n pleitverduideliking erken dat hy vir Juandre Soman op 22 April vanjaar met ’n klip gegooi en verkeerd opgetree het. Hy was die eksekuteur van die boedel en het die betrokke dag na Soman se huis gegaan om met hom te praat. ’n Rusie het tussen hulle ontstaan.
Hy het uit frustrasie ’n klip opgetel en in die rig-ting van Soman en van sy vriende gegooi. Die klip het Soman in sy gesig getref.
Sy regsverteenwoordiger, Caela Wicomb, het die hof vir ’n opgeskorte vonnis gevra omdat Ferreira skuldig gepleit het en nie die hof se tyd gemors het nie. Wicomb het ook gesê Ferreira is die pa van vier kinders en die enigste broodwinner.
Hoewel hy nie ’n eerste oortreder is nie, is hy die laaste twintig jaar ’n wetsgehoorsame burger wat berou het oor wat hy gedoen het.
Die staatsaanklaer, Elana Goosen, het die pleit aanvaar maar bygevoeg dat die klaer sy oog kon verloor het. Landdros Stephanie Strydom het met vonnisoplegging gesê dat sy in ag geneem het dat Ferreira skuldig gepleit het en ’n vaste werk het.
Sy het gesê dat sy Ferreira se frustrasie verstaan, maar dat hy nie die reg in eie hande kan neem nie en gestraf moet word. “U is 49 jaar oud en ’n mens verwag dat u ’n voorbeeld vir ander moet wees.”
Hy is ’n boete van R1000 of ses maande gevangenisstraf opgelê, opgeskort vir drie jaar. Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)