Teengif is vir slangbyte beskikbaar

NA aanleiding van Die Hoorn se berig “Brunett se noue ontkoming toe pofadder byt” van 6 Oktober, het Die Hoorn met Hannes Stegmann, algemene be­stuurder van die Mediclinic Klein Karoo, gesels.

Volgens Stegmann is daar wel teengif beskikbaar by die hospitaal en het hulle ’n ooreenkoms met die provinsiale hospitaal, wat ook teengif aanhou, om om indien ’n tekort ontstaan teengif by hulle te kry.

Mornay Thysse, bekende brandweerman en slangvanger van Oudtshoorn, sê dieselfde teengif word vir ’n kobra- en pofadderbyt gebruik.

“Die Kaapse kobra se gif is neurotoksies terwyl ’n pofadder se gif sitotoksies is. Polivalente teengif word vir albei se byt gebruik.”

’n Boomslang se gif is hemotoksies en daarvoor word monovalente teengif gebruik, wat verskil.
Boomslang-teengif kos sowat R6 900 per ampule, maar gelukkig is ’n boomslangbyt baie skaars.

Teengif vir kobra- en pofadderbyte is goedkoper en kos sowat R1 700 per 10 ml-ampule. Soms is vier tot agt ampules of selfs meer nodig vir die behandeling van ’n byt.

Indien die slang jou pik, is dit belangrik om onmiddellik mediese hulp te soek. “Beweeg so min as moontlik en bly kalm. Moenie die wond sny of suig nie, ys opsit of elektriese skok toepas nie.” sê Thysse.