
Nie ’n foto wat ’n toeristedorp soos Oudtshoorn graag wil sien nie. ’n Toergids, Don Mclennan, voor die Oudtshoorn Polisiekantoor waar hy Dinsdagmiddag ’n klag gaan indien het nadat ’n straatkind hom na bewering met ’n mes aangeval het. Foto: Liesel le Roux
Deur Liesel le Roux
WANNEER hy weer met ’n toergroep terugkeer na Oudtshoorn sal hy ’n taser en knuppel saambring, sê ’n toergids wat Dinsdagmiddag ’n noue ontkoming gehad het toe ’n straatkind twee keer met ’n mes op hom afgestorm het.
Die toergids, Don Mclennan, sê die toergroep van 36 toeriste uit Israel het omstreeks 14:30 die museum verlaat en na hul toerbus in Baron van Reedestraat gestap.
’n Groep straatkinders het die toeriste begin lastig val en selfs op die bus geklim. Mclennan sê hy het hulle begin wegjaag, waarna een van die kinders ’n mes uitgehaal en hom daarmee aangeval het.
“Die kind het twee keer met die mes op my afgestorm. Ek kon hom elke keer gelukkig keer. Hy het daarna gesê hy sal my doodmaak en my skiet.”
Mclennan sê hy het dit reggekry om die kinders uit die bus verjaag, die deure te sluit en die toeriste na die Safari Volstruisplaas te neem. “Die toeriste was verskrik ná die voorval.”
Die voorsitter van Oudtshoorn Toerisme, Billy Engelbrecht, het hom later die middag na die Oudtshoorn Polisiekantoor vergesel waar Mclennan ’n klag ingedien het.
Hy het ook nadat hy sy verklaring afgelê het, twee kinders in die selle by die polisiekantoor uitgeken nadat polisiebeamptes ’n groep kinders ná die voorval vasgetrek het.
Sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het egter gisteroggend aan Die Hoorn gesê dat die kinders vrygelaat is en niemand in hegtenis geneem is nie.
Die Hoorn kon nie voor druktyd by die Polisie vasstel waarom die kinders vrygelaat is nie ondanks die feit dat twee van hulle ná die messteekvoorval uitgeken is.
Engelbrecht het op sy beurt ’n beroep op mense gedoen om klagtes by die Polisie te gaan indien wanneer straatkinders by misdaad betrokke is en nie net daaroor te praat nie.
“Die stasiebevelvoerder, brigadier Levona Januari, het verlede week ná die aanval op ’n bloemistewinkel op die dorp gesê dat klagtes by die Polisie ingedien moet word en die sake ondersoek sal word.
“Mense moet hierop reageer,” het Engelbrecht gesê.
Lelani Boonzaaier, waarnemende bestuurder van die CP Nel Museum, het gesê die toergroep het nadat hul middagete geëet het, al die besienswaardighede in die museum besigtig.
Volgens haar het sowat tien straatkinders, onder wie ’n meisie, die toeriste genader en begin lastig val toe hulle op pad na hul bus na van die produkte van die vereverkopers by die museum gaan kyk het.
Die toeriste wat in die verevroue se produkte belang gestel het, het uit vrees vir die kinders inderhaas na hul bus toe gegaan sonder om iets te koop.
Volgens Boonzaaier val die straatkinders dikwels toeriste by die museum lastig.
Sy sê van die kinders het al aan haar gesê dat die Wes-Kaap aan hulle behoort en dat hulle soms openlik op die grasperk langs die museum sit en gom snuif.
Een van die verevroue was ook al die slagoffer van die straatkinders.
Volgens Janet Mpof is sy op 30 Januarie voor die museum deur ’n straatkind met ’n klip teen die kop gegooi.
Sy vertel daar was ná die voorval ’n bloeiende wond aan haar kop. Daar is nog ’n roof waar die klip haar getref het.
Sy sê van die ander vroue het ná die voorval die Polisie ontbied, maar dat hulle nie uitgekom nie.
Sy het dieselfde dag ’n klag by die Polisie ingedien en ’n verklaring afgelê. Sy sê sy wag egter steeds op ’n saaknommer.
Volgens sers Michaels ondersoek die Polisie wel ’n klag van aanranding na die klipgooiery.
• Nog twee mans het Dinsdagmiddag dieselfde tyd as Mclennan ’n klag by die Polisie teen straatkinders ingedien na aanleiding van ’n voorval wat na bewering by Pick n Pay plaasgevind het.
Volgens sers Michaels het die mans die klag egter intussen teruggetrek.