
Die pad tussen Oudtshoorn en Dysslesdorp wat oor die volgende twee jaar nuut oorgebou gaan word. Foto: Schalk le Roux
Deur Liesel le Roux
BOUWERK aan ’n heeltemal nuwe pad tussen Oudtshoorn en die brug net verby die afdraai na Dysseldorp sal tussen middel en einde April begin.
Daar sal terselfdertyd begin word met die opgradering van die pad tussen die brug en De Rust. Dit sluit die pad deur De Rust in.
Volgens Kenwyn Street, kontrakbestuurder van NMC Civil aan wie die tender van R200 miljoen vir die bou van die pad toegestaan is, sal die bouwerk aan die gedeelte tussen Oudtshoorn en Dysseldorp twee jaar duur, terwyl die opgradering van die res van die pad na De Rust in Maart volgende jaar voltooi behoort te wees.
Die nuwe pad sal ‘n skouer weerskante hê en ook meer gelyk wees met minder steil op- en afdraandes.
Straatligte sal langs die eerste aantal kilometer buite Oudtshoorn geïnstalleer word.
Die brug net na die Dysseldorp-afdraai sal ook verbreed word.
Die gedeelte van die pad daarna tot deur De Rust word nie herbou nie, maar slaggate en slegte plekke op die pad sal herstel word en dit sal ’n nuwe teerlaag kry.
Street sê tydens die twee jaar wat aan die pad gewerk word, sal verkeer van beide kante af met die hulp van drie stop/ry-punte beheer word.
Die maatskappy is reeds besig op Oudtshoorn om voorbereidingswerk vir die bou van die pad te doen. Dit sluit onder meer die inrigting van ’n kantoor, huur van toerusting, verkryging van water, skakeling met grondeienaars langs die pad en skakeling met gemeenskaporganisasies oor die aanstelling van plaaslike werkers in.
Street sê NMC wil graag plaaslike werkers aanstel en kan selfs miskien plaaslike subkontrateurs gebruik.