‘Rolspelers gaan praat oor Aifa-nagopleiding oor woonbuurte’

Deur Liesel le Roux
DIE Oudtshoorn Munisipaliteit skenk tans aandag aan die nagopleiding van vlieëniers deur Aifa, en inwoners se vrae en klagtes daaroor, sê Ntobeko Mangqwengqwe, senior woordvoerder van die munisipaliteit.

Volgens Mangqwengqwe gaan die munisipaliteit met al die rolspelers, insluitend Aifa en die betrokke Wes-Kaapse provinsiale departement, oor die kwessie vergader. “Ons wil die publiek verseker dat ons bewus is van hul klagtes en dat dit deel uitmaak van ons besprekings,” het hy gesê.

Die Hoorn het die afgelope week navrae oor die nagopleiding en die wettigheid daarvan aan ver­skeie rolspelers gestuur, naamlik die munisipa­liteit, die kantoor van Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omge­wingsake en ontwikkelingsbeplanning, en die nuwe uitvoerende hoof van Aifa, Chris Ebersohn, maar teen druktyd slegs reaksie van die munisipaliteit ontvang.

Verskeie inwoners het die afgelope twee weke gekla oor die skielike nagvlugte tot laataand laag oor woonhuise en verblyfplekke.

Een van die dorp se ontevrede inwoners wat in die vlugpad van die opleidingsvliegtuie woon, Robert Keene, sê opleiding word na 18:00 verbied ingevolge ’n interim-beslissing ’n paar jaar gelede deur minister Bredell. Dit is volgens hom ’n oor­treding van interim-omgewingsimpakregulasies.
Hy sê hy is egter verlede week deur ’n perso­neellid van Aifa ingelig dat die nagopleiding met die goedkeuring van Ebersohn plaasvind.

Niel Els, ’n voormalige voorsitter van Oudts­hoorn Toerisme, sê die toerismebedryf het nog altyd die vliegskool ondersteun, maar dat die skielike nagvlugte ongelukkig besoekers wegjaag.
Hy het gewaarsku dat dié optrede van Aifa tot wrywing op die dorp kan lei. “Daar is plek vir alle besighede in Oudtshoorn, maar toerisme is die gans wat die goue eiers lê en kan nie benadeel word nie,” het by gesê.

Die telefoonlyne na van Oudtshoorn se raads­lede is ook al warm gebel sedert die nagopleiding begin het. George Kersop, wyksraadslid vir Wyk 2, sê hy het al tot laataand oproepe van ontstoke inwoners ontvang. Volgens Kersop het hy ook verneem dat Ebersohn goedkeuring verleen het dat nagopleiding gedoen word.