Die Oudtshoorn Munisipaliteit het verlede Woensdag (28 Oktober) by ’n raadsvergadering ’n langtermynlening van R16,5 miljoen vir drie projekte goedgekeur, naamlik herstelwerk aan die tartan-atletiekbaan, herstelwerk aan strate en storm- watervore asook vir herstelwerk aan die watertoevoerpyp vanaf die Raubenheimerdam.
Dié herstelwerk het noodsaaklik geraak as gevolg van skade aan die baanoppervlak wat slegs sal vererger as nie ingegryp word nie.
Dié atletiekbaan word deur jonk en oud in die Groter Oudtshoorn gebruik.
Hieroor wil ander partye nie geld leen vir Bridgton Swembad nie
’n Versoek van die ANC by die vergadering dat bykomende geld geleen moet word vir die opknapping van die Bridgton Swembad, is nie deur die ander partye – die DA, Sarco, Icosa en die EFF – gesteun nie.
Tyatya was na die vergadering baie ongelukkig daarmee dat die ander partye nie die voorstel wou steun nie.
“Die opgradering van die swembad sal help met die ontwikkeling en bevordering van swem in arm gemeenskappe en ook verseker dat die swembad volgende jaar gereed is vir openbare gebruik,” sê hy.
“Dit was regtig hartseer om te sien hoe die koalisie besluit het om dit nie te steun nie. Ons het sterk insette gelewer en ons versoek om ondersteun te word ten gunste van die Bridgton-gemeenskap, geregverdig.
“Ons was selfs bereid om ons begroting aan te pas sodat ons die swembad kon akkommodeer en om ook te verseker dat ons behoorlike prosesse volg.”
Die raadslid in beheer van die raad se finansiële portefeulje, George Kersop, het op navraag van Die Hoorn gesê hy glo al die ander partye steun wel die opgradering van die Bridgton Swembad, maar dat dit gedoen kan word sonder om geld by ’n bank te leen wat weer terugbetaal te word.
Kersop sê die nasionale regering maak voorsiening vir toekennings van geld (bekend as “grants’) aan munisipaliteite vir projekte in voorheen benadeelde gebiede, soos die gebied waar die Bridgton Swembad geleë is.
Dié toekennings is skenkings van ’n bedrag geld met sekere voorwaardes en hoef nie deur die munisipaliteit terugbetaal te word nie.
“Ons sal kan aansoek doen vir so ’n ‘grant’ om die swembad op te gradeer, wat sal meebring dat ’n verdere finansiële las nie op die munisipaliteit geplaas word nie.” (Deur Liesel le Roux)