DIE munisipale kantore in Dysseldorp was gister nog toe nadat ontevrede inwoners dit Maandagoggend gesluit het en werknemers toegang tot die gebou geweier is.
Volgens die waarnemende munisipale bestuurder van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, Gerald de Jager, het die munisipaliteit ’n petisie oor diensleweringskwessies van ’n groep inwoners ontvang. Hy, die onderburgemeester, Gaven Juthe, en die direkteur korporatiewe dienste, Reginald Smit, het daarna verlede week met die inwoners gesels in ’n poging om probleme op te los.
“Die pogings was egter onsuksesvol waarna dié opruiende en kommerwekkende optrede van inwoners gevolg het.
“Ons praat ook met die polisie oor optredes deur inwoners wat as krimineel beskou kan word. Ons wil ’n beroep doen op die gemeenskap om hulle te weerhou van optrede soos die sluiting van die munisipale kantore en ontwrigting van dienste.
“Ons wil graag help, maar kan dit slegs doen as die gemeenskap hul samewerking gee.”
Die inwoners is na bewering onder meer ontevrede omdat hulle nie tydelike werkgeleenthede by die munisipaliteit kry nie, wat glo aan hulle belowe is as deel van die Wes-Kaap se Expanded Public Works Programme (EPWP), wat tydelike werk verskaf om te help om armoede te bestry.