Tabakdiewe bots teen muur terwyl hulle vlug

Die Volkswagen Golf wat Maandagaand om 20:45 in ’n botsing betrokke was. Die bestuurder en nog ’n insittende het vanaf die toneel verdwyn nadat hulle na bewering tabakblare op Schoemans-hoek gesteel het.  Foto verskaf

Deur Angelique Erasmus
TWEE mans, wat Maandagaand na bewering tabak by ’n skuur op Schoemanshoek gesteel het, was kort daarna in ’n botsing betrokke toe die blou Volkswagen Golf waarmee hulle weggejaag het, ’n heining op die hoek van Bloem- en Jonesstraat op Oudtshoorn getref het.

Die bestuurder en een van die vyf insittendes van die Golf het van die toneel weggehardloop.
Twee passasiers is met beserings na die hospitaal geneem.

Volgens Henko Schoeman, plaasbestuurder van die plaas Buffelsdrift in Schoemanshoek, het hy kort na 20:00 ’n oproep van een van hul voormanne ontvang.

“Hy het vertel ’n vreemde motor is by een van die tabakskure opgemerk.”
Schoeman en nog ’n plaasbestuurder, Boeta Schoeman, het die motor agternagesit. Iemand wat die motor gesien het, kon vir hulle die regi-strasienommer gee en hulle het dit op die hoek van Kerk- en Adderleystraat opgemerk. Toe Schoeman egter uit die bakkie klim, het die bestuurder van die Golf laat spaander.

Volgens Schoeman is die Golf teen ’n hoë snelheid sonder om te stop regoor Voortrekkerweg, maar kon dit nie sy draai kry by Jonesstraat nie en het dit in die heining vasgejaag.

“Met ons aankoms was twee van die insittendes egter reeds weg.”

Hy sê die motor behoort aan twee bejaarde mense wat ook insittendes was, maar nie rybewyse het nie. Die waarde van die tabakblare wat in die bagasiebak gevind is, is sowat R200 en is in die besit van die Oudtshoorn Polisie.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, word ’n saak van diefstal en roekelose bestuur ondersoek.

Niemand is al in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

• Schoeman het aan Die Hoorn gesê die tabakskure loop gereeld deur omdat dit slegs met riete toegemaak word. “Daar moet ventilasie wees om die blare droog te maak,” sê hy.

Die tabak word klaarblyklik vir snuif of pruim-tabak gebruik.