Burgemeester ondersoek deur DA se Federale Raad

Burgemeester Colan Sylvester.

Deur Liesel le Roux
DIE DA se Federale Regskommissie het gister met ’n ondersoek begin na bewerings oor die optrede van die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester, in sy amp as burgemeester.

Sylvester is sedert gister vir ses weke op spesiale verlof van alle raads- én party-aktiwiteite sodat die ondersoek kan plaasvind nie.

Volgens ’n skrywe wat Maandag deur Natasha Mazzone, ondervoorsitter van die Federale Raad, aan Sylvester gestuur is in opdrag van die DA se Federale Raad, is ’n versoek om spesiale verlof te neem reeds op 2 Augustus aan hom gerig tydens ’n besoek van ’n provinsiale DA-afvaardiging. Hy is op sy versoek 24 uur toegestaan om daaroor na te dink en te konsulteer. Die Hoorn het insae gehad in dié skrywe wat die week op sosiale media rondgestuur is.

Sylvester het klaarblyklik egter toe ’n brief aan die nasionale leier, Mmu­si Maimane, geskryf waarin hy aandui dat hy ses weke verlof van slegs party-aktiwiteite sal neem en ook ander kwessies geopper. Geen afskrif is aan Mazzone gestuur nie.

Die Federale Raad het hierop eenparig op 16 Augustus besluit dat Syl­vester weer die “vriendelike op­sie” gegun sal word om vanaf 20 Augustus ses weke spesiale verlof te neem. Indien hy egter nie sou reageer nie, sou hy vir ses weke geskors word sodat die ondersoek kon voortgaan.

Sylvester mag gedurende die ondersoek nie betrokke wees by party- of raadskwessies nie, nie raadsgeboue besoek of betrokke wees by raadsaktiwiteite nie, geen toegang hê tot raadsdokumente of dit aanvra van ’n amptenaar of werknemer van die raad nie.

• Die Federale Regskommissie ondersoek sedert Maart vanjaar bewe­rings van spanning onder raadslede asook van moontlike korrupsie.

Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaap­se provinsiale DA-leier wat op 2 Augustus lid was van die afvaardiging wat Oudtshoorn besoek het, sê daar is kommer in die DA oor beskul­digings en teenbeskul­digings teen die burgemeester, Colan Sylvester, die munisipale bestuurder, Allen Paulse, en ander raadslede. “Ons kan dit nie onder die mat invee nie en volg hier-die beskuldigings op.”