Die Mercedes soos dit Maandag in Van der Rietstraat voor Camp Roadhouse gestaan het toe dit gekaap is. Foto verskaf
Deur Liesel le Roux
DIE kaping van sy motor Maandagoggend voor sy winkel in Van der Rietstraat het hom laat besef hoe belangrik dit vir alle besighede op ’n dorp soos Oudtshoorn is om paraat te wees vir sulke voorvalle.
So sê Jaco Vorster, mede-eienaar van Camp Roadhouse en onder-voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer, oor die kaping waartydens drie mans omstreeks 11:45 by hom in sy Mercedes reg voor sy winkel geklim en ’n silwer pistool in sy gesig gedruk het. Vorster was op die punt om kontant te gaan bank. Volgens hom het die mans van oorkant die pad af na sy voertuig gehardloop gekom.
Hoewel die Mercedes verlate later die oggend sowat twee blokke verder in Edmeadstraat gevind is, is die drie mans en die kontant wat in die motor was, steeds soek.
Die mans, wat volgens Vorster senuweeagtig voorgekom het en Engels gepraat het, het op hom gevloek om uit die motor te klim. “Ek het hulle gevra om net my selfoon wat in die kar was, vir my te gee, maar hulle het weggejaag daarmee. ’n Ent verder het hulle dit by die venster uitgegooi.”
Die motor het in Buitekantstraat in ’n noordelike rigting gedraai.
Die mans is na bewering kort voor die kaping deur ’n wit Hyundai Accent met ’n C-registrasienommer in Parkweg afgelaai, en vermoedelik weer in Edmeadstraat opgelaai.
Vorster se motor is tans elders in veilige bewaring omdat die kapers die motorsleutels gesteel het en hy klaarblyklik geruime tyd vir Mercedes sal moet wag om die sleutel te vervang.
Volgens kapt Louis Visser, ’n polisiewoordvoerder, bestaan die gesteelde geld hoofsaaklik uit munte. Die polisie is tans besig om verskeie leidrade op te volg.