R20 miljoen bespaar deur plaaslike materiaal en kundigheid

Min Donald Grant en raadslid Goliat Lottering (burgemeester, Prins Albert) (middel) knip die lint om die “nuwe” Swartbergpas amptelik geopen te verklaar. Van links is raadslid Margie Jaftha (Prins Albert), Stephan Schoeman en Johan Bredell (ingenieurs), Grant, Isak Windvogel (speaker, SKDM – Sentraal-Karoo-distriksmunisipaliteit) Lottering, Stoffel Botes (speaker, Prins Albert) en Linda Jaquet (onderburgemeester, Prins Albert). Foto: Marlene Malan
• Ander padprojekte in die omgewing wat reeds in Grant se visier is, is die
opknapping van die Swartbergpas aan die Oudtshoorn-kant, sowel as die Gamkaskloof-pad (na Die Hel)
• Van die oorspronklike klippe in die
“Bain-muur” is in die rivierloop
geïdentifiseer en gemerk, en met masjinerie teruggeplaas
Deur Marlene Malan
PRESIES ’n jaar ná ’n vernietigende flitsvloed in die Swartberg is dié herstelde “ekonomiese lewensaar” tussen Oudtshoorn en Prins Albert Dinsdag amptelik deur die Wes-Kaapse minister van vervoer en openbare werke, Donald Grant, geopen.
Dat ’n projek van dié omvang binne nege maande voltooi is, is buitengewoon, het Grant gesê. Sowat 2,4 kilometer van die pas, aan die noordelike kant naby Prins Albert, het heeltemal in duie gestort nadat ’n massa water ná ’n storm in die kloof afgestroom het. Dit het dié Groot Karoo-dorp se ekonomie ’n ernstige knou toegedien omdat die Swartbergpas as toerismeroete een van die dorp se grootste ekonomiese inspuitings is.
“Die strategiese belangrikheid van die Swartberg is al in 1881 besef toe Thomas Bain dit gebou het,” het Grant gesê. “Dis waarom ons dit ’n prioriteitsprojek gemaak en as departementele taak aangepak het, bestuur deur die provinsiale padnetwerk.”
As die projek die gewone pad van tenders en private konsultante gevolg het, was die moontlikheid sterk dat daar nou eers met die projek begin sou word – wat sou beteken het dat Prins Albert as dorp ekonomies heeltemal sou kwyn. Dit word geraam dat die herstelwerk uiteindelik R20 miljoen minder gekos het, omdat eie kundigheid, plaaslike vaardigheid en arbeid, sowel as hoofsaaklik materiaal uit die omgewing gebruik is.
Hy beskou die reaksietyd op die ramp as niks minder nie as ’n “wêreld-eerste”, het Grant gesê. “Ek het op Sondagaand 9 April verlede jaar dié nuus gekry. Op 12 April het ons die eerste evaluering gedoen en op 13 April die terrein begin opruim. Op 19 Oktober is die sowat 180 meter vernietigde stutmure en herbegruising van die nuwe pad grootliks voltooi. Daar kon toe begin word om die pad oor naweke te gebruik. Op 16 November was alle klipmure klaar en is die pad heeltemal vir verkeer oopgestel.
Alle uitstaande take is op 31 Maart afgehandel. Nou, op 10 April – een jaar en een dag ná die skade – kan ons dit open.”
Die finale koste is net onder R10 miljoen. Aanvanklik is die herstelkoste op R30 miljoen beraam met ’n hersteltyd van 18 maande.
Een van die ingenieurs, Stephan Schoeman van Oudtshoorn, het gesê van die grootste uitdagings was die erfeniswaarde van die pas, die besoedeling van water in die Dorpsrivier (Prins Albert se watertoevoer), arbeid, tydsdruk en die moeilike konstruksieterrein. Materiaal vir die bouwerk is verkry uit die Dorpsrivier, uit gruisgroewe en met die minimum wat ingevoer is. Van die oorspronklike klippe in die “Bain-muur” is in die rivierloop geïdentifiseer, gemerk en met masjinerie teruggeplaas.
“Padbou-ervaring en kundigheid in eie geledere het baie gehelp om die projek so vinnig en goed moontlik af te handel.”
Volgens die burgemeester van Prins Albert, Goliat Lottering, is die pad-infrastruktuur in en rondom die dorp uiters belangrik om ekonomiese lewensvatbaarheid te verseker. “Ons dorp se ekonomie hang af van landbou en toerisme. Toe die pas gesluit was, het toerisme gekwyn. Die Swartberg is ons ekonomiese lewensaar.”
Hy het die onderburgemeester, Linda Jaquet, uitgesonder vir haar aandeel in die projek. Sy het die Swartbergpas-aksiegroep gelei, wat gesorg het vir samewerking tussen die gemeenskap, besighede en die owerhede.