
Voortrekkerweg. Foto: Liesel le Roux
Voorgestelde naamsverandering van Voortrekkerweg
Deur Liesel le Roux
DIE openbare deelnameproses rondom die voorgestelde naamsverandering van Voortrekkerweg op Oudtshoorn na Nelson Mandela Boulevard skop vandeesweek af. Kennisgewings hieroor verskyn vandeesweek in Die Hoorn op bladsy 9 asook in ander plaaslike publikasies.
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, sal inligting oor die deelnameproses ook in die maandelikse munisipale nuusbrief verskyn, op pamflette wat by openbare wyksvergaderings oor die begroting en Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) uitgedeel word asook op die munisipaliteit se sosiale media-platforms soos Facebook en Twitter. Die sluitingsdatum vir kommentaar is 18 Mei.
Geskrewe kommentaar oor die beoogde naamsverandering moet gestuur word na hd@oudtmun.gov.za of afgelewer word by die kantoor van mnr HD Visagie in die munisipale gebou in Voortrekkerweg. Mense wat nie kan skryf nie, kan die munisipaliteit nader vir hulp met hul kommentaar.