Suid-Koreaan betaal boete vir ongediertes in sy besit

Deur Angelique Erasmus
DIE 23-jarige Jae Woo Jung van Seoul in Suid-Korea, wat op 4 Januarie in hegtenis geneem is nadat 21 skerpioene, twee spinnekoppe en twee honderdpote in sy besit gevind is, het Dinsdag in die Prins Albert Landdroshof skuldig gepleit op ’n aanklag van die besit van beskermde diere sonder ’n permit.

Hy is deur landdros Thomas Claassen tot 20 maande tronkstraf of ’n boete van R10 000 gevonnis.

Die helfte van die boete is vir vyf jaar opgeskort.

Jung het reeds die R5 000 betaal, en sal op 21 Januarie terugkeer na sy tuisland.

’n Koreaanse tolk, Soobin Park, moes vanaf Kaapstad reis vir die saak in Prins Albert.

Jung het by sy vorige hofverskyning in die Prins Albert Landdroshof nie Engels of Afrikaans verstaan nie en aangedui dat hy nie die hofprosedure kon volg nie.

Hierdie was Jung se derde besoek aan Suid-Afrika.

Hy het beweer dat hy ten tye van sy inhegtenisname op vakansie was in Prins Albert, waar een van die werknemers by die gastehuis waar hy tuis­gegaan het, die gediertes in sy kamer gekry en die eienaar daarvan in kennis gestel het.

Die eienaar het die Polisie ontbied.

Die Polisie het tydens Jung se inhegtenisname beslag gelê het op die skerpioene, spinnekoppe en honderdpote.

Die veelpotiges is daarna aan CapeNature oorhandig.

Hulle het dit op hul beurt Kaapstad toe gestuur vir verdere identifikasie.

Jung is deur Vaughn Shone verteenwoordig, terwyl Marvon de Vos opgetree het vir die staat.