50 000 liter water van Gift of the Givers vir Kannaland

Die munisipale bestuurder van Kannaland, Reynold Stevens (derde van links), bedank ’n verteenwoordiger van Gift of the Givers, wat Dinsdag 50 000 liter water in Kannaland afgelewer het. By hulle is die burgemeester van Kannaland, Magdalena Barry (tweede van links) en die speaker, Aletta Theron. Foto verskaf

Deur Liesel le Roux
DIE hulporganisasie Gift of the Givers het Dinsdag 50 000 liter drinkwater in Kannaland afgelewer na ’n noodroep van die munisipaliteit vir water.

Volgens Ian Avontuur, woordvoerder van die burgemeester van Kannaland, Magdalena Barry, het die Kannaland Munisipaliteit die hulp van die Gift of the Givers ingeroep aangesien daar ’n waterkrisis in Zoar en Calitzdorp ontstaan het.
Hy het die Gift of the Givers bedank vir die waterskenking.

“Die Nelsdam in Calitzdorp is tans 11% vol water en daar word bereken dat Calitzdorp voldoende water sal hê vir die volgende vyf maande. Die situasie in Zoar is kritiek, met die Tierkloofdam tans 10% vol, terwyl die ander dam in Zoar, die Jongelingsdam, slegs 20% vol. Zoar het tans genoeg water vir slegs drie weke,” sê Avontuur.

Volgens hom geld streng waterbeperkings in Kannaland. Hy het ’n beroep op inwoners gedoen om water spaarsamig te gebruik.
“Ons rampbestuursentrum werk nou saam met die Tuinroete Distriksmunisipaliteit en die provinsiale regering. Ons is ten volle in beheer van die situasie en ons het gebeurlikheidsplanne”.

Die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikelingsbeplanning, Anton Bredell, sê die watersituasie in die Wes-Kaap is onder beheer.

“Hoewel die watersituasie in die Karoo en Klein Karoo ernstig is, het geen dorp in die streek se drinkwater nog opgeraak nie.”
Bredell sê Kannaland het nie tans ’n watertekort nie.

“Daar was ’n kort tydelike tegniese uitdaging ten opsigte van onderhoud by die dorp se wateraanleg. Die werk daar is Saterdagaand voltooi danksy die departement van plaaslike regering bygestaan deur tegnici van Oudtshoorn.”

Hy het munisipaliteite en hulporganisasies versoek om die departement van plaaslike regering te kontak indien daar kommer oor water is. “Die provinsie is in beheer van hulpprojekte in die streek.”

Volgens Bredell het die departement vanjaar reeds R78,2 miljoen aan droogteverligting in die provinsie bestee. Dit sluit in ’n pyplyn by Laingsburg, ’n boorgatpomp en Eskom-verbinding in Matjiesfontein, gebottelde water en ander hulp in Beaufort-Wes, asook die beskikbaarstelling van ingenieurs en geohidroloë wat hulp verleen in die Sentrale Karoo.