INWONERS van Oudtshoorn vra steeds wat gebeur het met die oortollige betalings aan ’n munisipale raadslid, Marcellis Theyse, sedert sy inhuldiging aan die begin van Junie 2018.
Dit wil blyk of inwoners se vrae onbeantwoord gaan bly nadat Reginald Smit, waarnemende munisipale bestuurder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, vandeesweek gesê het dat die munisipaliteit “nie die finansiële aangeleenthede van enige raadslid of werknemer in die publiek” mag bespreek nie, omdat dit “wettiglik nie die regte manier is om dit te hanteer nie.”
Die Hoorn het in November 2019 berig dat die Munisipaliteit aangedui het dat dit besig was met ’n ondersoek na die oorbetaling.
Theyse het Wyk 13 tydens ’n tussenverkiesing op 30 Mei 2018 vir die DA gewen nadat dit deur die afsterwe van Pieter Luiters, ’n lid van die burgemeesterskomitee, vakant gelaat is, vroeër in 2018.
Volgens inligting wou dit voorkom of Theyse sedert sy inhuldiging nie die salaris van ’n alledaagse wyksraadslid ontvang het nie, maar betaling gelykstaande aan dié van ’n lid van die burgemeesterskomitee.
Destyds het die oorbetaling volgens Jongilizwe Tyatya, hoofsweep van die ANC in die Oudtshoorn-raad, eers bekend geword toe die Ouditeur-Generaal se kantoor daaroor navraag gedoen het.
“Indien ’n raadslid of werknemer aan die munisipaliteit verskuldig is, sal ons dit hanteer op die wyse wat die wet toelaat. Dit is nie die burgemeester of burgemeesterskomitee se reg om die voorskrifte van die wet oor te neem nie, aangesien dit nie daarvoor voorsiening maak nie,” het Smit vandeesweek gesê. (Deur Stefan Skapie Goosen)