Deur Garnett Wicomb
DIE voormalige hoofbestuurder van Kango Wyne op Oudtshoorn, Johan Brits, wag steeds vir terugvoer van die Kaapse Hooggeregshof nadat hy gevra het vir ’n hersieningsaansoek oor sy skuldigbevinding in die Oudtshoorn Landdroshof.
Brits is geruime tyd gelede in die Oudtshoorn Streekhof skuldig bevind op 23 klagtes van bedrog en twee van die oortreding van die wet op drankprodukte.
Die staatsaanklaer, Corné Pretorius, het die hof op Oudtshoorn verlede week meegedeel dat steeds gewag word vir die uitslag van ’n mosie wat Brits by die Kaapse Hooggeregshof ingedien het vir ’n hersieningsaansoek rondom sy skuldigbevinding.
Brits beweer dat ontoelaatbare of onbevoegde getuienis toegelaat is en toelaatbare of bevoegde getuienis verwerp is. Hy het die Hooggeregshof versoek om sy skuldigbevinding deur streeklanddros JC Nortje te hersien en ter syde te stel.
Brits is daaraan skuldig bevind dat hy bedrog gepleeg het deur ’n produk bekend as “ale” met wyn te vermeng en dit onder ou wynetikette bemark het, asook die feit dat seëls wat deur ’n beampte van die
Departement Landbou aan wyntenks aangebring het, gebreek is.
Die saak is deur streeklanddros Nortje tot 29 Julie 2019 uitgestel in afwagting op die beslissing van die Hooggeregshof.