Messteek-vrou tronk toe

Deur Garnett Wicomb
’N VROU van Rose Valley, Oudtshoorn, wat ’n ma van drie kinders met ’n mes gesteek het wat as gevolg daarvan verlam is, is in die Oudtshoorn Streekhof tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis vir aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Felicity Botha (43) het tereg ge­staan op ’n klagte van poging tot moord.

Sy het die 36-jarige Elizabeth Naude op 4 Mei 2016 met ’n mes in die nek gesteek.

Naude moet vandag met ’n rolstoel oor die weg kom.

Die hof het gehoor die twee vroue was die betrokke dag by twee geleenthede in woordewisselings betrokke. Botha wou Naude die eerste keer met ’n mes steek, maar is deur haar broer, Naude se kêrel, gekeer.

Die tweede keer het hulle oor die inhoud van ’n swart sak gestry toe Botha weer ’n mes gaan haal en Naude gesteek het.

Sy het getuig dat sy onder die invloed van alkohol was en nie bedoel het om Naude dood te maak nie. Naude het vooroor gebuig en is toe per ongeluk in die nek getref, het Botha getuig.

Die staatsaanklaer, Brendon Smith, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra omdat Botha aan ’n ernstige misdryf skuldig bevind is en geen berou toon nie

Streeklanddros Retha Pretorius het met vonnisoplegging gesê Botha het Naude se lewe totaal verwoes.

Sy kan nie haar hande oopmaak nie en kan nie loop nie. Sy kan ook nie werk nie en niks vir haar kinders doen nie.

Volgens die landdros was Botha ook nie eerlik met haar persoonlike besonderhede nie.

“Die beskuldigde het leuens vertel ten opsigte van die versorging van haar drie kinders.

“Dit het eers later aan die lig gekom dat sy nie die primêre versorger is nie.”

Volgens die landdros is Botha aan ’n ernstige misdryf skuldig bevind en kan die hof nie ligtelik afwyk van voorgeskrewe vonnisse om die guns van die publiek te wen nie.

“Die hof moet gepaste vonnisse oplê al dra dit nie altyd die publiek se goedkeuring weg nie,” het die landdros gesê.

“Mens is vandag te geneig om skerp voorwerpe te gryp om geringe onderonsies op te los.

“Die klaagster het volgens ’n mediese verslag lewensgevaarlike bese­rings opgedoen en het amper geen kans om ’n normale lewe te lei nie.

“Die beskuldigde was ’n baie swak getuie en het die hof probeer mislei. Sy het die doel gehad om die klaagster seer te maak,” het die landdros afgesluit.

Botha is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis waarvan twee jaar voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.

Getuienis is voor die hof gebring dat haar twee minderjarige kinders in die sorg van hul biologiese pa is.

Sy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit en die hof het die klaagster meegedeel dat sy geregtig is om vertoë te rig indien Botha na die uitdiening van ’n deel van haar vonnis voor ’n paroolraad verskyn.