Stasiebevelvoerder sê sy wil bande bou met gemeenskap

OUDTSHOORN het op 1 Julie ’n nuwe stasiebevelvoerder op die dorp verwelkom.

Brig Susan Crafford se wortels is stewig geplant in die Klein Karoo. Sy is op Ladismith gebore en het daar en op Calitzdorp skoolgegaan.

Daarna is sy Pretoria toe waar sy haar opleiding as polisiebeampte by die polisiekollege vol­tooi het.

Na haar opleiding het sy in Gauteng begin werk in die sigbare polisiëringseenheid.

Sy het in gebiede soos Sophiatown, Hillbrow en Westbury gewerk, waar sy sê sy onskatbare ondervinding opgedoen het.

In 1993 is sy tot offisier in die Witwatersrand bevorder, en in 1996 was sy betrokke by bestuursdienste by die polisiehoofkantoor in Pretoria. Sy beklee sedert 2001 senior bestuursposisies.

Sy bring nou onder meer haar diens van 33 jaar en ook ’n M Tech-polisiemeestersgraad, wat sy in 2005 voltooi het, na die volstruisparadys.

“Dit is ’n vreemde tyd om te begin,” sê sy, verwysend na die huidige Covid-19-pandemie, maar glo haar ondervinding “on the ground” en in be­stuursposte sal handig te pas kom op Oudtshoorn.

“Ek glo ook Oudtshoorn se polisiemag is vol beamptes met ryk ondervinding, en ons moet dit begin ontgin.”

Dit is nie haar eerste pos as stasiebevelvoer­der nie. Sy was in 2019 die bevelvoerder van Booysens-kantoor in Johannesburg.

Crafford is ’n voorstaander van gemeenskaps­polisïering, en glo dat buurtwagte van kardinale belang vir die polisie kan wees.

“Kommunikasie tussen die polisie en die gemeenskap is uiters belangrik, ons moet met mekaar praat en saamwerk,” sê sy.

Crafford wil nie net fokus op samewerking met die gemeenskap nie, maar ook op die verbetering van die polisie se reaksietyd, en ook op die suksesse wat hulle behaal.

“Moraal is, veral nou, redelik laag, en ons moet dit ook verander.” (Deur Stefan Skapie Goosen)