DIE verhoor van ’n egpaar van Oudtshoorn wat hulle na bewering met onwettige staatstenders verryk en be- gunstigdes benadeel het, is Maandag in die streekhof vir nog twee dae se verhoor op 9 en 14 Julie uitgestel.
Die staat beweer dat Marthinus Rabie sy vrou, Johanna, se twee beslote korporasies – Attaqua en Gwaiing Ontwikkelings – tussen 2006 en 2008 bevoordeel het met die toekenning van tenders.
Miljoene rande is by die saak betrokke.
Marthinus Rabie is ’n voormalige tegnikus in diens van die Wes-Kaapse Departement van Landbou by die Oudtshoorn Proefplaas,
Hy is steeds onder kruisverhoor en ontken dat hy sy vrou se besighede bevoordeel en die staat daardeur benadeel het.
Rabie ontken die egtheid van die getuienis van ’n pa en seun van Matjiesrivier, Dermorney en Johan Wicomb.
Die Wicombs het getuig dat Rabie hulle met ’n bakkie van die departement na Zoar vervoer het waar hulle vir Attaqua gewerk het.
Volgens hulle het Rabie self die sweiswerk gedoen met die aanlê van ’n pyplyding op Matjiesrivier.
Oor ’n boomplantprojek by die Ladismith Hoërskool ontken hy ook die getuienis van Dawid Jacobs en Charles Salman dat die boompies wat aangeplant is te klein was en die besproeiingstelsel nie effektief gewerk het nie.
Hy beweer dat Jacobs moontlik deur die ondersoekbeampte voorgesê is oor wat om te getuig.
Voorts ontken hy dat hy kenners in diens van die departement weggehou het van die projek.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het dit aan Rabie gestel dat sy vrou volgens getuienis nie eens op hoogte was van die boomaanplanting nie omdat hy al die werk self gedoen het.
Rabie ontken ook die getuienis van ’n werker van ’n plaas naby Klaarstroom, Palmietfontein, dat hy ’n waterpomp op die plaas opgerig het waarvoor sy vrou die kontrak gekry het.
Goulding het dit aan Rabie gestel dat hy gaan betoog dat hy fisiek en dus onreëlmatig betrokke was by projekte van sy vrou se beslote korporasies.
Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks en sal op 9 Julie 2020 hervat word met die kruisondervraging van Rabie.
• ’n Artikel 174-ontslagaansoek van die egpaar se regsverteenwoordiger, Gideon Badenhorst, is al vroeër in die lang uitgerekte hofsaak deur die landdros van die hand gewys. (Deur Garnett Wicomb)