“DIE meeste mense is aanvanklik lamgelê deur vrees vir Covid-19, en daarom het mense ook aanvanklik die inperkingsreëls nagekom. Maar aangesien ons vir lank slegs drie positiewe gevalle op Oudtshoorn gehad het, het mense se vrees begin taan en hulle begin om die inperkingsmaatreëls minder streng toe te pas.”
Aan die woord is die direkteur van Famsa Karoo, Franzu Badenhorst, by wie Die Hoorn gaan aanklop het vir inligting en insig oor die invloed van die huidige pandemie op die gemeenskap van Oudtshoorn en omgewing.
Hy sê die aanvanklike inperking en gesinstyd saam was vir die meeste gesinne baie positief, veral in gesinne met gesonde gesinsverhoudinge en grense.
“Die probleem was egter by disfunksionele gesinne waar armoede en werkloosheid, dwelmmisbruik, huweliks- of verhoudingsprobleme, gesinsgeweld, ens. voorkom. Hierdie gesinne was reeds onder erge druk en die inperking het dit in baie gevalle vererger en op die spits gedryf.”
Hy sê egter die afsondering vir weke lank in een huis saam met jou gesin was vir baie uiteindelik moeilik en problematies. “Dit was ook vir enkellopendes emosioneel swaar om in afsondering te wees. Die verlies aan sosiale interaksie en vriende se fisieke ondersteuning was en is steeds vir baie ’n emosioneel moeilike ervaring, veral ook waar ouers nie besoek kan word nie, al woon hulle in een dorp.
“Vir kinders in ons gemeenskap was dit eweneens moeilik, aangesien hulle meesal op straat speel, rondloop en familielede besoek. Skielik moes hulle tuis bly en binne die erf speel. Sommige kinders het eenvoudig, ongeag hoeveel keer ons met hulle daaroor gepraat het, geweier om tuis en in hulle erwe te bly. Baie ouers kon ook nie werk nie en het dus in veral die eerste vyf weke tot aan die einde van vlak 4 geen inkomste gehad nie.”
Badenhorst sê dit is waarom Philip Seroux met Famsa Karoo se hulp ’n voedingsprogram vir kinders in Polisiehoogte begin het en dit steeds voortgaan. “Ons getalle styg party dae tot meer as 100 kinders. Die voedingsprogram het van 20 April tot middel Junie 2020 Maandae tot Vrydae gekookte etes verskaf, maar die laaste twee weke word etes slegs op Dinsdae en Donderdae verskaf.”
Toename in geweld?
Badenhorst sê dit is moeilik om te bepaal of en in watter mate daar ’n toename in geweld was omdat geen statistiek beskikbaar is nie.
“Aangesien Oudtshoorn egter ’n brandpunt in die Wes-Kaap is ten opsigte van gesinsgeweld, behoort dit in sekere gevalle toegeneem het, maar met die verbod op alkohol kon dit ook die voorkoms daarvan beperk het.”
Hy sê met vlak 3 en die verkope van alkohol sal hofstatistieke oor beskermingsbevele ’n aanduiding van geweld kan gee.
Volgens Badenhorst het hul personeel in die landdroskantoor 13 aansoeke om beskermingsbevele vir fisieke geweld in April afgeneem, 18 aansoeke in Mei en tot Dinsdag (23 Junie) 59 aansoeke vir vandeesmaand. Die aansoeke kan vloek en skel (mondelinge geweld) insluit.
Daar is volgens hom ook ’n direkte verband tussen drankgebruik en gesins- en fisieke geweld.
“Geweld teen vroue, kinders, gestremde mense, ouer mense, asook mense uit die LGBTIA-gemeenskap (lesbian, gay, bisexual, transgender, intersexual, asexual) sou gedurende inperkingsvlakke 5 en 4 afgeneem het, maar sou vanaf vlak 3 met drankverkope toegeneem het.
“Die vervaardiging van tuisgemaakte bier en drank het wel tydens vlakke 4 en 5 in baie dele van ons gemeenskap voorgekom en sou ook ’n impak op gesins- en fisieke geweld kon hê.”
’n Veranderde wêreld
“Die feit dat die wêreld en Suid-Afrika vir ewig en altyd met Covid-19 sal verander, was nie aanvanklik vir my so duidelik soos wat dit vandag is nie.
“Ek het baie gou besef dat ons na ’n ‘nuwe normaal’ beweeg en dat dit belangrik is om die geleentheid aan te gryp om so vinnig moontlik daarby aan te pas en die proses te bestuur.”
Badenhorst sê hy en sy personeel het aanvanklik deeltyds of van die huis af gewerk, maar onder vlak 4 na voldagdiens oorgeskakel.
Hulle was egter vanaf die eerste dag van die inperking besig om hul voor te berei en gereed te maak vir dié “nuwe normaal”.
Op ’n persoonlike vlak was elkeen van Famsa se span se ervaring van die inperking egter anders.
“Vir my was dit baie positief, want ek kon voortgaan om noodsaaklike dienste te bestuur, ondersteuning aan ons gesondheidspersoneel te gee, ensovoorts. Vir sommige personeel was dit baie erg, want hulle kon nie soos gewoonlik gaan stap nie, of ’n bejaarde ouer in ’n aftreeoord of tehuis besoek nie. Kontak na buite was gekoppel aan inkopies, miskien een keer per week, of deur die gebruik van sosiale media, teksboodskappe of telefoonoproepe.”
Met die nuwe uitdagings wat die Covid-19-pandemie bied, wag daar harde werk op Famsa.
“Die grootste uitdaging is verseker om die organisasie binne die nuwe omstandighede te bestuur en uit te bou met die minste ontwrigting en onsekerheid vir alle partye. Ons as mense het gelukkig die potensiaal en gawe om vinnig by veranderende omstandighede aan te pas.”
• Famsa (Families South Africa) is ’n nie-winsgewende organisasie betrokke by die beskerming van gesonde, funksionele gesinne. (Deur Stefan Skapie Goosen)