’N MAN van Bongolethu op Oudtshoorn is in die streekhof 23 jaar gevangenisstraf opgelê nadat hy op twee klagtes van huisbraak met die opset om te steel, onwettige besit van ’n vuurwapen en diefstal vanuit ’n voertuig skuldig bevind is.
Die 24-jarige Lewellyn Jansen het ’n pleit- en vonnisooreenkoms met die staat aangegaan waarin hy die misdade erken.
Hy het in Desember 2016 by die woning van Archibald du Plessis in John Theodorestraat ingebreek en ’n skootrekenaar, DVD-speler en outo-matiese 9 mm-pistool gesteel.
In Januarie 2018 het hy weer in Kerkstraat by die woning van Arnoldus Koen ingebreek waar hy ’n braaipan, twee staanlampe en ’n aantal CD’s ge-steel het.
In Oktober 2018 het hy ’n battery uit die motor van Scheeper Brits gesteel.
Streeklanddros Ntsoki Moni het Jansen volgens die ooreenkoms gevonnis tot agt jaar vir die besit van ’n vuurwapen en vyf jaar op elk van die twee huisbraakklagtes en diefstal vanuit ’n voertuig.
Die hof het gelas dat die vonnisse vir huisbraak en diefstal samelopend met die vonnis vir besit van ’n onwettige vuurwapen uitgedien kan word vir effektiewe tronkstraf van agt jaar.
Jansen is tydens uitspraak ook deur die hof onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)