Staat sloer na jaar steeds met watersaak

Deur Angelique Erasmus
DIE saak teen ’n boer van die streek wat daarvan aangekla word dat hy die nasionale waterwet oortree het, is op 8 November in die Oudtshoorn Streekhof deur streeklanddros Retha Pretorius uitgestel, volgens haar vir die laaste keer.

Pretorius het haar misnoeë uitgespreek omdat die staat se ondersoek in die saak teen Ebon le Roux (44) na ’n jaar steeds nie afgehandel is nie.

Hoewel daar vyf getuies in die saak teen Le Roux is, is slegs twee van die vyf verklarings al geneem en is die ander drie verklarings steeds uitstaande.

Le Roux word daarvan beskuldig dat hy tussen 2016 en 2017 water vanuit die Kammanassierivier gebruik het ’n wyse anders as waarvoor dit toegelaat is.

Die alternatiewe klagtes is dat hy water teenstrydig met voorwaardes uit die rivier gepomp het vir besproeiingsdoeleindes en die waterbron nadelig beïnvloed het deur water wederregtelik uit die rivier te pomp.

Pretorius het aangedui dat sy nie die saak verder gaan uitstel nie. Le Roux verskyn weer op 11 Desember in die hof.