Spring gou vir dié Zoid en Charl-konserte!

VIR die eerste keer sedert 1996 word daar vanjaar tydens die KKNK weer konserte in die Kango Grotte aangebied.

Twee unieke en eenmalige konserte met onderskeidelik Karen Zoid en die pianis Charl du Plessis beloof onvergeetlike aande in een van Suid-Afrika se grootste natuurwonders. Luidens ’n persver­klaring van die KKNK wat gister uitgereik is, word die konserte “met spesiale toestemming” in die Grotte aangebied.

Karen Zoid Unplugged, ’n akoestiese vertoning van Zoid saam met die kitaarspeler Henry Steel vind op 27 Maart plaas en Charl du Plessis se Die Kangogrotte-konsert, ’n solo-klavieruitvoering op ’n Steinway-klavier, op 28 Maart.

“Ons wil ’n wyer bewusmaking oor die Kango Grotte stimuleer en as deel van die geleenthede dra ons by tot die fondse om dié kosbare erfenis te bewaar,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.

“Die KKNK is ’n bestemmingsfees en met dié unieke ervaring kan ons met die Klein Karoo se natuurlike erfenis spog.

“Baie streng riglyne word gevolg ten opsigte van die konserte en net ’n beperkte aantal kaartjies word beskikbaar gestel om te verseker dat die konserte geen impak op die Grotte sal hê nie.”

Zoid se optrede beloof om een van vanjaar se feeshoogtepunte te wees. Sy vier met die konsert haar 20 jaar in die musiekbedryf en haar tien albums wat verskyn het.

“Ek is ongelooflik bevoorreg om in die beeldskone, geskiedkundige skat wat die Kango Grotte is, te kan optree,” sê sy. “Ek en Henry Steel sien verskriklik uit om deel te word van die oeroue akoestiek van die Van Zylsaal in die grotte. Die Kango Grotte is ’n wêrelderfenisgebied en ’n juweel in die Suid-Afrikaanse na­tuurkroon.”

Du Plessis sal met sy optrede die eerste pianis in die geskiedenis word om ’n klavieruitvoering in die Grotte aan te bied, en dit op Internasionale Klavierdag waartydens die 88 klawers van die klavier wêreldwyd op die 88ste dag van die jaar gevier word, vanjaar op 28 Maart. 

Du Plessis, Suid-Afrika se voorste vertolker van klassieke en jazz-klaviermusiek, sê die Grotte gaan weerklink met musiek van Rachmaninoff, Chopin, Bach en Beethoven, wie se Maanligsonate ter viering van die 250ste herdenking van sy geboorte ingesluit word. 

“Om in die Kango Grotte te speel was al vir soveel jare my droom. Ek het nooit gedink die logistieke nagmerrie om ’n Steinway daar in te kry sou moontlik gemaak word deur die KKNK nie en sal hulle ewig dankbaar wees.

Ek lek al be­hoor­lik my lippe af vir die wonderlike en beroemde akoestiek van die Grotte.”

Alison Moos, operasionele bestuurder van die Grotte, sê hulle sien uit om die twee kunstenaars te verwelkom. “Hierdie is ’n eksklusiewe en ’n eenmalige ervaring en ons deel graag die uniek­heid van die Kango Grotte met konsertgangers.”

Be the first to comment on "Spring gou vir dié Zoid en Charl-konserte!"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*