Sportfees terug na 2 jaar se afwesigheid!

By die bekendstellingsfunksie van vanjaar se maandlange Oudtshoorn Sportfees by Brian’s Grill verlede Donderdag was van links Luwellyn Coetzee (waarnemende direkteur strategiese dienste), Dirk Van der Westhuizen (Wes-Kaapse Departement Kultuursake en Sport), raadslid Sonia Bentley (voorsitter strategiese dienste-komitee), Mandilakhe Matika (Wes-Kaapse Departement Kultuursake en Sport) en raadslid Leon Campher (onderburgemeester van Oudtshoorn). Foto verskaf

Verteenwoordigers van verskillende sportkodes by die bekendstellingsfunksie. Voor van links is Essie Esterhuizen (fietsry), Martin Davids (rugby), Katy Britz (baldans), Edith Josephs (interim-voorsitter sportraad), Mandilakhe Matika (Departement Kultuursake en Sport) en Ian Laubscher (sportontwikkelingsbeampte). Agter van links is Brian Lucas (sportont­wikkelingsassistent), Dean Damons (domino’s), Jan van Niekerk (rolbal), Dirk Van der Westhuizen (Departement Kultuursake en Sport) en Gabriel Majolla (sokker). Foto’s verskaf

0.13-CRAVENWEEK-RUGBY, die Wes-Kaapse Wêreldbaldansproewe, ’n nasionale jeugfees-fietsrykampioenskap, die Klein Karoo-ovaalbaan­kampioenskap, dominoes, vlakkiekrieket, rolbal, sokker en nog vele meer!

So lyk die program vir die Oudtshoorn Sportfees wat na ’n afwesigheid van twee jaar weer vanjaar op Oudtshoorn sal plaasvind.

Die sportfees, wat jare lank al ’n instelling op die dorp is en deelnemers van dwarsoor die land trek, kon as gevolg van Covid-19 vir twee jaar nie plaasvind nie.

Vanjaar se maandlange sportfees word aangebied deur die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit in samewerking net die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport, die Oudtshoorn Sportraad, die Eden Sportraad en streeks- en provinsiale sportfederasies.

Vanjaar se fees skop op 16 Junie af en duur tot 16 Julie.

Die fees is verlede Donderdag by Brian’s Grill op Oudtshoorn bekendgestel.

By die geleentheid het raadslid Sonia Bentley, voorsitter van die munisipaliteit se strategiese diens­tekomitee rolspelers verwelkom.

Luwellyn Coetzee, waarnemende direkteur strategiese dienste by die munisipaliteit, het by die geleentheid gesĂŞ die munisipaliteit wil Oudtshoorn weer posisioneer as die sportmekka wat dit voorheen was.

“Om dit te laat gebeur, moet die munisipaliteit maniere vind om strukturele skade by sportgeriewe aan te spreek en ’n vennootskap met die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport en ander rolspelers vorm.

“Die sportfees pas in die prentjie om beleggers en fondse te trek om die Groter Oudtshoorn as die sportkern van die streek te vestig.

“Die fokus van die fees is op die jeug en om sport terug te bring na ons skole, townships en spesifiek plattelandse gebiede.”

Dirk van der Westhuizen wat die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport en die Oudtshoorn Motorklub verteenwoordig het, het gesê die departement het R50 000 vir die sportfees en R60 000 vir die “landelike toernooi” beskikbaar gestel.”

“Daar is niks meer belangrik as om ’n inkomste vir ons dorp te genereer nie. Ek wil inwoners van die Groter Oudtshoorn aanmoedig om betrokke te raak by die sportfees.

“Ons kan deur dié fees met die finansiële ondersteuning van die Departement Kultuursake en Sport bystand verleen aan sportfederasies om groot byeenkomste op Oudtshoorn aan te bied,” het Ian Laubscher, die munisipaliteit se sportontwikke-lingsbeampte gesê.

“Die hoofdoel van die sportfees is om Oudts­hoorn as ’n voorkeur-sportbestemming in die Suid-en Wes-Kaap asook sporttoerisme en sosiale samewerking te bevorder.” (Deur Liesel le Roux)