“DIE eerste 1000 dae in die lewe van ’n kind is beslis die belangrikste en daarom is die bywoning van ’n kleuterskool van kardinale belang.”
So het Sarie Soman, voorsitter van die Klein Karoo Voorskoolse Ontwikkelingsforum, met die inwyding van ’n tweede klaskamer vir die Helder-liggies Kleuterskool op Rooiheuwel oos van Oudtshoorn op Sondag, 29 Mei, gesê.
Die amptelike inwyding van die nuwe klas-kamer wat deur inwoners van die Oudtshoorn Kor-rektiewe Dienste opgerig is, was ondanks gietende reën ’n vreugdevolle geleentheid. “Reën is seën-inge en daarom is dit ’n geseënde dag vir die kleuterskool en ouers van Rooiheuwel,” het Soman gesê.
Volgens haar is die eerste 1 000 dae die tyd wanneer die grondslag van die kind gelê word, en indien dit nie in hierdie tydperk gedoen word nie, het die kind later ’n agterstand. Kinders is volgens haar geskenke uit die hand van God en dit is die ouers se rol om die kind by die huis dissipline en respek te leer.
Dinah Josephs, skoolhoof van Helderliggies, het gesê “vandag is ’n baie geskiedkundige dag vir Helderliggies”. Volgens haar kan die ouderdomsgroepe by die kleuterskool nou van mekaar geskei word en die kinders beter gehalte onderrig ontvang en in hul totaliteit ontwikkel.
Josephs, wat reeds 21 jaar lank betrokke is by die vroeë ontwikkeling van kinders, het ’n spesiale woord van dank uitgespreek teenoor Phillip Se-roux, wie sy in Desember tydens sy geskenkuit-reikingsprogram ontmoet en gevra het om te help met ’n tweede klaskamer.
Seroux het die hoof van Oudtshoorn Korrektiewe Dienste, Phillip Bush, gekontak wat onmiddellik ingestem het, en danksy skenkings van bou- materiaal, bydraes van personeellede en die kundigheid van inwoners van die gevangenissentrum die klaskamer opgerig het.
Volgens Bush maak dit deel uit van ’n inisiatief wat die Suid-Kaapse areakommissaris van Korrektiewe Dienste ’n paar jaar gelede begin het om na skole uit te reik.
Royden Boonzaaier, administratiewe hoof van die Oudtshoorn Landdroshof, het in sy boodskap gesê dit is hartseer om te sien dat die meeste kliënte van die hof uit die bruin gemeenskap kom en skryf dit toe aan armoede, wanhoop en werkloosheid.
Hy het ’n beroep op die ouers van Rooiheuwel gedoen om te sorg dat hul kinders gereeld skool bywoon en om ook gebruik te maak van die dienste wat die departement justisie gratis aanbied.
“Die hof is nie net ’n plek waar mense tronktoe gestuur word nie,” het hy gesê.
Die Oudtshoorn Korrektiewe Dienste se orkes het die geleentheid met hul musiek en sang opgehelder. (Deur Garnett Wicomb)
Nuwe klaskamer vir Helderliggies Kleuterskool
Dinah Josephs (in middel met olyfgroen kleredrag), hoof van die Helderliggies Kleuterskool op Rooiheuwel, saam met die dag se sprekers. Foto’s: Garnett Wicomb