DIE tyd van die jaar waarna hondehanteerders, -telers en diereliefhebbers van die Klein Karoo én Tuin- roete heel jaar uitsien het uiteindelik aangebreek; hordes honde en hul eienaars van regoor die land gaan die naweek op Oudtshoorn toesak vir die 2022 Outeniqua en George Kennel-klubs se jaarlikse hondeskoue en kampioenskappe.
Soos oudergewoonte vind die skoue van Vrydag tot Sondag (10-12 Junie) op die Hoërskool Oudtshoorn se sportveld plaas, en volgens Gerla Anderson, Outeniqua Kennelklub-sekretaresse, gaan 62 verskillende soorte opregte honderasse deelneem, wat beteken dat daar meer as 240 honde op skou gaan wees, in verskeie kategorieë.
Hierdie diere gaan almal wel in verskillende klasse deelneem – naamlik “gundog”, “herding”, “hound”, “terrier”, “toy”, “utility” en “working” – maar sal almal meeding om die gesogte “Best on Show”-titel van die onderskeie skoue. Verder word die honde en hul hanteerders verdeel in “puppy”-, junior-, ope- en kam- pioenkategorieë.
Die beoordelaars, volgens Anderson, kom ook van alle uithoeke van die land met verteenwoordigers van KwaZulu-Natal, Vrystaat, Gauteng en die Oos-Kaap wat teenwoordig sal wees.
Iets om na uit te sien, sê Anderson, is die kinder- en juniorhanteerders. “Hanteringsklasse word vir hierdie jong hanteerders gehou om hul met hul honde te ondersteun; dit gaan alles oor die verhouding met ’n mens se hond en hul styl. Hierdie kinders reis saam met hul ouers regoor SA om mee te ding en word op ’n punte-skaal regdeur die jaar beoordeel om as ons top-juniorhanteerder aange-wys te word. Hulle kry dan die geleentheid om aan die grootste hondeskougeleentheid in die wêreld deel te neem, naamlik Crufts in die Verenigde Koninkryk,” sê sy.
Volgens Anderson het Suid-Afrika in die verlede drie of vier juniors gehad wat op die kortlys in die Top-10 ter wêreld was, en ’n paar jaar gelede een juniorhanteerder gehad wat die kompetisie gewen het.
Twee sulke jongelinge waarvoor ’n mens moet uitkyk vanjaar is die ervare Lea (9) en Boas (11) Olivier. Dié twee jong Oudtshoorniete se honde het verlede jaar verskeie toekennings gewen, met Lea wat as die beste kinderhanteerder by al die skoue aangewys is.
Meer onlangs is Lea ná afloop van die Kusa National-hondeskou, wat die naweek van 27 tot 29 Mei in Johannesburg aangebied is, aangewys as die beste kinderhanteerder van die skou. Boas was vyfde in die junior-hanteerder-afdeling.
“Ons hoop om ’n paar toeskouers te sien oor die naweek. Daar sal verskillende uitstallers wees met wie belangstellendes kan gesels en meer verstaan oor die opregte honderasse wat daar sal wees,” sê Anderson. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Hordes honde by plaaslike skoue verwag
Boas Olivier (11) van Oudtshoorn se pug, Fuji, sal ook tydens die naweek aan die hondeskoue op die dorp deelneem. Hier is Boas en Fuji tydens ’n hondeskou wat in Mei in Johannesburg aangebied is. (Foto verskaf.)