DIE sopkombuis in Polisiehoogte wat Phillip en Susanna Seroux in April verlede jaar begin het, het verlede week sy eerste verjaardag met twee partytjies gevier.
Volgens Phillip het die kombuis binne ’n jaar van krag tot krag gegaan en spog hulle nou met ’n eie struktuur op hul erf wat ses maande gelede ook ’n nasorgsentrum geword het waar kinders na skool besig gehou en van die strate weggehou word.
Die sopkombuis met sy leuse Gee julle vir hulle iets om te eet is begin kort na die eerste inperking verlede jaar as gevolg van die Covid 19-pandemie.
“Ons kan nie die Here genoeg dank vir die seëninge van die afgelope jaar nie. Dis ongelooflik,” sê Phillip.
Die verjaardagvieringe het verlede Woensdag afgeskop met ’n partytjie vir die kinders en van die senior burgers. Sondag is nog ’n partytjie gehou om dankie te sê vir al die borge en ondersteuners.
Seroux sê hy en sy vrou het in April verlede jaar gereageer op ’n beroep van RSG om tydens die inperking in hul gemeenskappe betrokke te raak en ’n helpende hand uit te reik na diegene wat swaarkry.
“Ons het besluit om iets vir die kinders van die buurt te doen wie se ouers tydens die inperking nie gewerk het nie, en aanvanklik daagliks ’n sopkombuis vanuit ’n kerkgebou bedryf. Daarvoor verdien die kerkbestuur en gemeente dank.”
Na sowat ses maande het hulle besluit om borge te soek en ’n houtstruktuur op hul erf te bou en is die sopkombuis uitgebrei met die nasorgsentrum.
’n Kombuis is vanjaar aangebou vir die voorbereiding van die sop en etes.
Tans word tussen 80 en 100 kinders en bejaardes elke dag iets gegee om te eet, volgens Phillip danksy mildelike bydraes van verskeie Samaritane.
Volgens Phillip verskil hul sopkombuis van ander omdat die kinders meer kry as net iets om te eet.
Hulle neem ook deel aan sportsoorte soos sokker, rugby, krieket, netbal en potspel.
Een van die sopkombuis se grootste ondersteuners, Franzu Badenhorst van Famsa Karoo, het die Seroux-egpaar Sondag bedank vir die reuse-werk wat hulle in die gemeenskap verrig.
Famsa bied gereelde programme by die sentrum aan waar kinders geleer word van familiewaardes en verhoudings. “Ons wil kinders ook aanspoor om hul drome na te streef en te sien realiseer,” sê Badenhorst.
Volgens hom is dit verstommend om te sien hoeveel jeugdiges daagliks in die Oudtshoorn-howe verskyn vir dwelm- en alkoholverwante misdrywe.
Seroux het sy dank uitgespreek teenoor die sopkombuis en nasorgsentrum se ondersteuners.
• Die sopkombuis en nasorgsentrum is van Maandag tot Vrydag vanaf 10:00 oop. Kontak Seroux vir meer besonderhede en enige skenkings by 079 987 9486. (Deur Garnett Wicomb)
Sopkombuis vier eerste verjaardag
Phillip Seroux en Franzu Badenhorst van Famsa Karoo saam met van die kinders by die groot verjaardagkoek.
Foto: Garnett Wicomb