Van bo na onder: Drie botsingtonele op die berugte straathoek wat onderskeidelik in April, Junie en Julie 2018 plaasgevind het. Foto’s: Die Hoorn
VERLEDE Donderdagoggend was die steenbedding op die berugte hoek van Baron van Reede- en Van der Rietstraat weer flenters nadat ’n vragmotor dit na bewering getref het.
Dié steenbedding is oor die jare al ten minste vier keer herstel, net soos die talle wrakke van motors en motorfietse wat al oor die jare daar weggesleep is en die talle beseerde mense wat in ambulanse daar weggeneem is.
Hopelik weet almal al teen hierdie tyd dat dit nie help om te vra vir verkeersligte en sirkels en vierrigtingstoptekens in Baron van Reedestraat nie, omdat die Wes-Kaapse Departement van Vervoer – die beherende gesag van dié deurpad (munisipale hoofpad) – nie ten gunste is van sulke verkeersbeheer op ’n deurpad nie.
Verkeer op dié pad kry dus voorkeur en voertuie word op so ’n pad nie aangemoedig om te stop nie, behalwe by voetoorgange.
Die departement het wel in 2018 op navraag van Die Hoorn aangedui dat hulle aandag skenk aan die veiligheidsituasie in Baron van Reedestraat en die talle ongelukke waar ander strate dit kruis, maar dat meer statistiek nodig is oor byvoorbeeld botsings, spoedoortredings en verkeersoptrede om ’n behoorlike verkeersanalise te kan doen…
Dit is egter tyd dat nuut, ernstig en kreatief gedink word oor die beveiliging van hierdie straathoek, en die betrokke owerhede verantwoordelikheid hiervoor moet aanvaar.
Van die belangrikste oorsake van botsings waarvan Die Hoorn oor die jare tydens verslaggewing bewus geraak het, is ’n probleem met die sigbaarheid van ander voertuie; die snelheid waarmee voertuie om die draai en ook in Baron van Reedestraat ry; en haastige en ongeduldige bestuurders wat nie hul tyd gebruik om seker te maak
dat dit veilig is om te ry nie. Vragmotors sukkel ook om hul draai op die hoek te kry en ry dan in die steenbedding vas.
Daar was al voorstelle dat die steenbedding verwyder en die pad verbreed moet word om die straathoek te beveilig.
Daar was ook al talle ander voorstelle, al is verkeersligte, vierrigtingstoptekens en verkeersirkels “verbode”.
Inwoners kla dat daar plante en strukture is wat verwyder of verskuif kan word om die sigbaarheid van ander voertuie te verbeter.
Gereelde spoedbeheer in Baron van Reedestraat deur die verkeersdepartement word ook gereeld geopper as ’n voorstel om spoedvrate stadiger te laat begin ry.
En wat van padborde (al is dit net in Van der Rietstraat) om aan te dui dit is ’n gevaarlike straathoek met swak sigbaarheid? Dalk sal dit iemand twee keer laat dink voordat hy of sy weer te haastig is om mooi te kyk of versigtig te wees.
Punt is, dit is ’n gevaarlike straathoek en menselewens is tog belangrik, of hoe? (Deur Liesel le Roux)
