AfriForum loods petisie

AFRIFORUM se Oudtshoorn-tak het verlede week ’n petisie geloods waarin beswaar gemaak word teen die verhoging van munisipale en belas­tingtariewe soos vervat in die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit se konsepbegroting vir die 2021/ 2022-boekjaar.

Die nuwe boekjaar begin op 1 Julie 2021 en duur tot 30 Junie 2022.

AfriForum bestempel dié verhogings as buitensporig en in die meeste gevalle meer as dubbeld die inflasiekoers van 3,2%. Die organisasie het mense aangemoedig om die petisie voor die sperdatum van 4 Mei te onder­teken.

Op die webblad https://afriforum.co.za waar die petisie verskyn, sê die organisasie dat die munisipaliteit met dié verhogings in ’n gemeenskap wat ekonomies erg onder druk is, op ’n pad na selfvernietiging is.

“Ons eis ’n aangepaste begroting sonder verhogings wat die benarde ekonomiese posisie van Oudtshoorn se inwoners, ondernemings en landbousektore in ag neem eerder as om dit te vererger,” lui die petisie voorts.

Volgens die munisipaliteit se konsepbegroting verhoog elektrisiteitstariewe op 1 Julie met 14,59%, eiendomsbelasting met 6%, watertariewe met 8%, sanitasiedienste met 8% en vullisverwydering met 9%.

Munisipaliteit: Elke belastingbetaler het die reg om te verskil en alternatiewe voorstelle te maak

Die munisipaliteit het Vrydag 30 Mei 2021 in reaksie op die petisie gesê elke belastingbetaler het die reg om te verskil en alternatiewe voorstelle te maak (sluitingsdatum 4 Mei). Die konsepbegroting is vir openbare deelname bekend gemaak, met belastingbetalers wat die geleentheid gebied is om daarop kommentaar te lewer, terwyl die burgemeester, Chris Macpherson, in elk van die 13 wyke in die Groter Oudtshoorn burgemeesters-imbizo’s bygewoon en oor die begroting gepraat en vrae beantwoord het.

Die reaksie van die munisipaliteit lui voorts: “Gegewe die geweldige impak van Covid-19 en die feit dat Nasionale Tesourie ons begroting gesny het, is dit ons verantwoordelikheid om ‘n begroting voor te lê wat effektiewe dienslewering kan verseker, en nie tariewe en belasting onnakenkend te verlaag met gevolge wat tot groot koste kan lei nie. Benewens die konsultasievergaderings is alle wyke, het die munisipaliteit ook ‘n geleentheid geskep vir inwoners en belanghebbendes soos AfriForum om bydraes te lewer en veranderinge voor te stel wat oorweeg kan word. Die sluitingsdatum vir addisionele voorleggings vir die konsepbegroting is 4 Mei.” (Deur Liesel le Roux)

(Berig opgedateer op 2 Mei 2021)