Herschelle: Ondersoeke vorder goed, sê polisie en munisipaliteit

Herschelle Willemse (17) wat op 7 Maart 2021 gesterf het. Foto Facebook

DIE ondersoeke na die dood van ’n 17-jarige matriekleerder van Calitzdorp, Herschelle Willemse, vorder goed, het woordvoerders van die Kannaland Muni­si­pa­liteit en die Suid-Kaap Polisie die afgelope week aan Die Hoorn gesê.

Herschelle het Sondag 7 Maart 2021 in die vroeë oggendure gesterf toe ’n muni­sipale bakkie in ’n muur vasgery het. Die bakkie, waarvan Herschelle ’n insittende was, is na bewering die nag onregmatig gebruik.

Die polisie het na die botsing bekend gemaak hulle ondersoek sake van strafbare manslag en die diefstal van ’n voertuig.

Roland Butler, waarnemende munisipale bestuurder van Kannaland, sê die munisipaliteit is besig met ’n tugproses teen ’n amptenaar by wie die voertuig volgens munisipale rekords was.

“Die betrokke amptenaar, werksaam in die Tegniese Dienste-afdeling, is reeds geskors hangende ’n interne ondersoek. Die munisipaliteit is ook in die proses om ’n klagte by die polisie in te dien, onder meer vir die gebruik van ’n bate van die munisipaliteit, sonder toestemming, vir private doeleindes.

“Na bewering het die betrokke amptenaar ’n ongemagtigde rit onderneem om varkkos of voer te gaan haal.”
Butler sê daar is bewysstukke hiervoor in die vorm van video- en fotomateriaal.

“Die munisipaliteit verwelkom die eksterne ondersoek deur die polisie aangesien dit meer duidelikheid kan gee oor die botsing en gepaardgaande saakbeskadi­ging asook die saak van strafbare man­slag.”

Hy sê die munisipaliteit het al voorheen opgetree teen amptenare wat bates van die raad misbruik het of hulle skuldig gemaak het aan nalatigheid.

Volgens kapt Malcolm Pojie, woord­voer­der van die Suid-Kaap Polisie, is die ondersoek na die dood van Herschelle en die diefstal van die bakkie in ’n ge­vor­derde stadium. “Sodra die ondersoek vol­tooi is, sal die dossier aan die senior staatsaanklaer oorhandig word om ’n beslissing te maak of iemand aanspreeklik gehou gaan word en/of vervolg gaan word.”

Hy het ook gereageer op vrae op so­siale media waarom die ondersoek na Her­schelle se dood nog aan die gang is, terwyl vier mense binne net meer as ’n week in hegtenis geneem is in verband met die moord op Lourens de Villiers.

“Elke saak word op sy eie meriete hanteer. Elke saak word met die nodige sorg en kundigheid wat dit vereis, aan­gepak en ondersoek. Sover my kennis strek, is ons organisasie kleurblind en speel kleur, geloof of etniese afkoms geen rol in ons ondersoek na misdaad nie,” het Pojie gesê.

“Natuurlik speel bewysstukke, getuienis en soms bekentenisse ’n groot rol in die oplossing van party sake. Na gelang van die beskikbaarheid daarvan om ’n prima facie-saak te bewys, neem sommige ondersoeke egter vinniger of langer as ander. Onthou egter, die arm van die gereg is lank en geregtigheid seëvier uiteindelik.” (Deur Liesel le Roux)